’n Dapper jong vrou van Boshoff wat in Januarie haar regtervoorarm in ’n ongeluk op ’n plaas verloor het, hoop om met behulp van ’n BackaBuddy-veldtog genoeg geld in te samel vir ’n bioniese arm.
Sané Wilken (18), het op 25 Januarie haar hand en voorarm verloor toe haar hand verstrengel geraak het in ’n kunsmissak wat in ’n gemotoriseerde watertenk beland het.
Die masjien het die sak om haar duim gedraai wat later haar gewrig gebreek het en gelei het tot die uiteindelike amputasie van haar voorarm.
Toe sy opgeneem is in ongevalle, het Sané aan haar ma, Corlia, gesê: “Dit is net ’n arm. Ek leef steeds om met jou te praat – dit gaan my nie onder kry nie.”
Sedert die ongeluk werk Sané hard om by haar nuwe omstandighede aan te pas. Sy sê haar grootste uitdagings is die alledaagse take wat sy eens moeiteloos gedoen het. Eenvoudige aktiwiteite soos om in die oggend haar hare vas te bind, aan te trek, te eet en met haar honde te speel, is nou aansienlik moeiliker.
Dokters skat dat dit tussen 6 en 12 maande kan neem vir Sané se arm om te genees.
Corlia het gekom met die idee om deur middel van BackaBudy, ’n aanlyn-geldinsamelingsplatform geld in te samel om vir Sané ’n bioniese arm te koop.
Hierdie soort prostese wat toegerus is met sensors wat die boodskappe van die spiere en brein interpreteer, sal help dat Sané weer haar selfvertroue en onafhanklikheid terugkry.
Sedert die begin van die veldtog, is daar reeds R83 000 vir die doel ingesamel met die mikpunt om R400 000 in te samel vir die bioniese arm.
Sover het 50 mense reeds ’n bydra gelewer.
Sané het onlangs haar landbouopleiding voltooi en het as klein dogtertjie al daarvan gedroom om eendag ’n landbouer te word. Sy tel nou die dae af wanneer sy weer op die plaas in Boshoff kan gaan werk met die beeste en gewasse waarvoor sy so lief is.
Oor die ongeluk het sy berusting. ”Dit was ’n fratsongeluk,” sê sy. “Daar was niks wat enigeen anders kon doen nie. Dit is niemand se fout nie. Ek is nie skaam oor my stompie nie. Ek sal dit vir enigeen wys en vir hulle my storie vertel.”
Sy is baie dankbaar vir almal wat reeds ’n bydra tot die fonds gemaak het. “Mense gee so vir my ’n tweede kans. Ek pak my lewe dag vir dag aan, maar ek weet dat ek binnekort weer sal leef soos voor my ongeluk,” sê sy.
Rig navrae oor die projek by Zane Groenewald by Zane@backabuddy.co.za.