Inwoners, personeel en klante van ondernemings in Groenvlei, Bainsvlei en talle ander hoewe-gebiede in die Mangaung-metro, moet daagliks op paaie ry, wat glad nie onderhou word nie.
Sommige gemeenskapslede, ondernemings en woonbuurtverenigings betaal dikwels self om slaggate tydelik te vul, maar dit is nie ’n langtermynoplossing nie.
Johan Pretorius, DA-wyksraadslid van wyk 48, het in ’n vraag in die raad gevra of daar enige plan is om die padoppervlaktes op die stad paaie te vernuwe.
“Dit is onaanvaarbaar dat terwyl die metro se top-bestuur buitensporige salarisse verdien, basiese dienslewering in die stad die swakste ooit is,” sê Pretorius.
“Die stad wat die ekonomiese hart van die metro en die Vrystaat is, ly onder ANC amptenare en politieke leiers wat onaktief is. Dit is nie goed as slaggate toegestop word nie, en dit boonop swak gedoen word. “Onder leierskap van die ANC die afgelope 15 jaar, was daar geen noemenswaardige belegging in ons paaie, terwyl inwoners en ondernemings skade ly weens die swak infrastruktuur.”
Pretorius sê ANC-politici bestee ure in vergaderings, sonder enige noemenswaardige planne of tydlyne om die ernstige probleme met dienslewering in die metro te pak. “Wyksraadslede word oorval met klagtes van inwoners oor die toestand van paaie en die stilte wat hulle begroet vanaf amptenare wat daarvoor verantwoordelik is.”
Hy sê die DA sal voortgaan om druk uit te oefen op die metroraad om ’n werkbare plan om die paaie met nuwe oppervlakte te teer en die nodige begroting daarvoor, beskikbaar is om die infrastruktuur en die lewe van inwoners en sakelui te vergemaklik,” sluit hy af.