Bakkes skenk kosbare Theuns Jordaan-aandenkings aan Naln

Die Naln het ’n goeie aanwins ryker geword toe die skrywer C. Johan Bakkes van sy kosbare aandenkings aan die museum geskenk het.


Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) het vandag ’n goeie aanwins ryker geword toe die Afrikaanse skrywer C. Johan Bakkes van sy kosbare aandenkings aan die museum geskenk het.

Bakkes en sy kunstenaarsvrou, Nanna Vorster-Bakkes, was op pad van die Paarl, waar hulle woon, na ’n vakansie by Parys, toe hulle langs die pad ’n kort besoek aan Naln in Bloemfontein gebring het.

“Hierdie aandenkings hang in my kroeg in die Paarl. Dit gaan baie meer waarde hê as dit hier in Naln is waar mense dit kan sien en vir die toekoms bewaar word.”

Twee van die kosbaarhede wat hy aan Wyno Simes, kurator van Naln, oorhandig het, is ’n goue en platinum CD van die sanger wyle Theuns Jordaan se album Vreemde Stad. Die geraamde eerbewyse lui: ’n Goue toekenning aan Johan Bakkes, die “burgemeester” van die Vreemde Stad vir die begin van “Vreemde Stad”. Die eerbewys is opgevolg deur ’n dubbel-platinum-toekenning opgedra aan Bakkes vir verkope van meer as 10 000 eenhede van dié album.

Bakkes verduidelik. “Ek en twee vriende het eendag in ’n kuierplek in Hatfield gesit en ’n paar biere gedrink en musiek gehoor in ’n restaurant langsaan. Ons het omgestap en daar staan hierdie man op die verhoog en sing. Hy het ’n wonderlike stem gehad. Ek het vir hom gevra of hy Afrikaans is, toe sê hy ja. Hy sing toe vir ons ’n lied van Koos du Plessis. Ek vra toe vir hom of hy sy eie musiek skryf en hy sing iets. Ek sê toe vir hom: Ek gaan jou help om ’n CD te maak.”

Dit was geen ydele beloftes nie. Bakkes en sy vriende het begin om konserte te reël om geld in te samel vir die opname van Theuns se CD Vreemde Stad.

Die eerbewyse wat Jordaan destyds aan Bakkes oorhandig het, is tekenend van hoe ver dié gebaar uiteindelik gegaan het.

Bakkes, skrywer van boeke soos Moer toe die vreemde in,Samoe(r)se reis, To hell and goneen Oepse Daisy asook kuierprogramme soos Drie Reisigers saam met Dana Snyman, Johan Badenhorst en Valiant Swart, het ook plakkate van optredes en boekomslae aan Naln geskenk.

Simes sê skenkings soos hierdie help met die bewaring van die Afrikaanse musiekgeskiedenis. “Dit is ook ’n waardevolle aanvulling tot Bakkes se manuskripversameling waarin daar reeds dokumente oor Theuns Jordaan is,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.