Die swemgala is een van die geleenthede op die skool se sportprogram. Foto: Verskaf


Die Hoërskool Staatspresident Swart (SPS) in Brandfort is ’n plattelandse skool met 500 leerlinge van gr. O tot gr. 12.

By SPS word leerlinge volgens vaste beginsels en Christelike waardes geleer en ontwikkel. Die skool fokus op algehele ontwikkeling sodat ’n gebalanseerde individu gevorm word.

Personeel is kreatief, betrokke en doelgerig, wat ’n groot bydrae lewer tot die groot sukses wat die skool jaarliks behaal.

SPS is trots op die 100%-slaagsyfer van die matrikulante van 2021. Altesaam 75% van dié klas het universiteitstoelating vir graad- en diplomastudie. Die 24 matrikulante het 19 onderskeidings en 27 B-vakgemiddeldes behaal. Die skool het ’n goue eerbewys van die departement van onderwys ontvang vir die 100%-slaagsyfer wat behaal is.

Die skool se topmatrikulant was Frans Marx, met ’n onderskeiding in wiskunde, rekeningkunde, lewenswetenskap, lewens­oriëntering en fisiese wetenskap. Hy studeer aan die Noordwes-Universiteit (NWU) om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word.

Ondanks die invloed van die Covid-19-pandemie het SPS uitsonderlike sportprestasies behaal. Leer­linge het in diepsee-hengel, perdry en gimnastiek uitgeblink.

Die skool het vanjaar ’n voorbereidings­afrigter wat leerlinge in verskillende sportspanne meer vaardighede leer en vir ligawedstryde afrond. Rugby, atletiek, tennis, krieket, netbal, perdry, dans, veldloop, swem en Monkeynastix word aangebied, en die skool beskik oor puik oefen­geriewe en toegewyde afrigters.

Die skoolkoshuis het baie moderne geriewe. Die waglys is jaar ná jaar lank. Die koshuis word nie weens beurtkrag gekortwiek nie, en ’n plan word gemaak indien watertoevoer onvoldoende is. ’n Huislike atmosfeer word vir elke koshuis­leerling van gr. 1 tot gr. 12 geskep.

Hoogtepunte in vanjaar se beplanning is die aanwysing van Mnr. en Mej. SPS op 17 Februarie, die Nashua Pieter Swanepoel-sportdag – die grootste plattelandse sportdag in die Vrystaat vir rugby en netbal – op 12 Maart en die rugby- en netbalweek vir o.13-spelers van 16 tot 18 Maart.

“Eer aan ons Hemelse Vader vir sy oorvloedige seëninge,” sê die hoof, Handré Alberts.

“Ons is dankbaar vir ons ondersteunende en positiewe ouergemeenskap. Ons kinders en hul prestasies, getrouheid, positiewe bydraes en passie is ons skool se trots.”

You need to be Logged In to leave a comment.