Ballonne . . . is jou nommer 18 of 81?

Al is dit lankal nie meer iets nuuts nie, bly dit nogal die aandag trek: daardie reusagtige heliumgevulde foelieballonne in die vorm van getalle. Inteendeel, dis waarskynlik onmoontlik om dié swewende, blink goed te geïgnoreer.


Al is dit lankal nie meer iets nuuts nie, bly dit nogal die aandag trek: daardie reusagtige heliumgevulde foelieballonne in die vorm van getalle. Inteendeel, dis waarskynlik onmoontlik om dié swewende, blink goed te geïgnoreer.

As jy dit nie iewers deur die loop van die week by ’n skool opgemerk het waar ’n meisie met die pienk weergawe hiervan uit ’n motor gespring het om ’n verjarende vriendin te verras nie, is die kans besonder goed dat jy dit op ’n Saterdagoggend by ’n winkelsentrum gaan raakloop. Iewers sal iemand doelloos rondstaan terwyl hulle skynbaar, reeds hoogs verveeld, wag vir die een wat gou weer die partytjiewinkel in is om die ekstra papierborde te kry waaroor die ma of sussie of niggie by die huis sopas gebel het.

Net nog ’n pakkie van ses, asseblief. Van die groenes, sonder patrone. Vir ingeval. ’n Mens weet nooit.

Daar is ook die kans dat jy hulle op die parkeerterrein aantref. In dié geval raak dit moontlik ’n heel vermaaklike besigheid.

Terwyl die toneeltjie van die skoolmeisie wat uit die motor spring eenvoudig vrolik en sorgloos lyk – baldadige meisiekind met ballonne wat agter haar uit die motor bons en deur die lug tuimel – is dit ’n ander storie om daardie ballonne in die eerste plek in ’n voertuig te kry.

Dis asof mense nooit mooi kan besluit of hulle die eiesinnige goed aan hul linte binnetoe moet trek, of hulle met die hande en arms, en later die hele bolyf, onder beheer moet probeer kry en by die motor indruk nie.

Ek hoor jou, mev. Beheer, jy moet maar net vir my rustig bly, asseblief. Jy en mnr. Slim Plan albei. Van mej. Regte Manier wil ek net mooi niks hoor nie. Afgelei van dit wat ek al gesien het, is daar geen voorskrif vir hoe dit gedoen behoort te word wat werk nie en, glo ek, boonop geen manier om werklik veilig te bestuur met dié goed in die voertuig nie. Dit verg maar saggies swets en belaglik stadig ry tot waar jy moet wees.

Wat wel vir my sonder uitsondering ’n heerlike speletjie is, is om agter te kom watter ouderdom die los getalle voorstel. As dit nou ’n eensame 5 is, stap ek maklik verby.

Die meeste van die tyd wik en weeg ek egter tussen 12 en 21, lieflike raaisel, of verwonder ek my aan die heerlike moontlikhede van 18 en 81, want moenie vir ’n oomblik dink dis net kinders wie se ouderdom so uitspattig uitbasuin mag word nie – oupa se 90 jaar kan ook in spoggerige goue getalle bo die koektafel pryk. Of selfs, soos op die foto wat ek nou die dag by ’n nuusberig sien, drie syfers langs mekaar: 103.

Hoe dit ook al sy, ek verbeel my vandag, vir Jeugdag, ’n lugruim vol van dié syferballonne.

Miskien kan die mees duiselingwekkende hoogtes bereik word wanneer beperkende verwagtinge rondom ouderdom laat los word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.