Nadat die geskiedkundige standbeeld van die Boere-held Christiaan de Wet se naam in sandsteen op die beeld aangebring is einde verlede jaar om dié te vervang wat deur vandale afgesteel is, is die beeld nou uiteindelik omhein.
Willie Engelbrecht, sekretaris van die Nasionale Vrouemonumentkommissie, sê die kommissie het nadat die nuwe letters aangebring is, besluit om ’n nuwe heining om die standbeeld voor die Vierde Raadsaal op te rig. Die heining is teen ’n koste van meer as R190 000 vervaardig en opgerig om aan te pas by die gebou wat deesdae die Vrystaatse Wetgewer huisves.
Die beeld en die grond waarop dit geleë is, behoort aan die Nasionale Vrouemonumentkommissie.
In 2022 is die beeld deur vandale verniel wat die woorde “Christiaan Rudolph de Wet” en die jare waarop dié Boere-held gebore is en gesterf het, en in koper op die voetstuk van die beeld gepryk het, verwyder.
Die kommissie het die hulp van klipmesselaar Shasha Mandic ingeroep om die inskripsie te maak – dié keer in sandsteen. Die bewoording is in November voltooi waarna die beplanning begin het vir die omheining van die standbeeld.
André van der Berg, eienaar en kontrakteur van die Leeuwberg-groep, het die heining vervaardig en opgerig.
Die hele projek is vroeg Februarie voltooi.