Beeste maak amok

Vyf beeste langs die N1-snelweg het talle lede van AfriForum ure lank besig gehou.


Vyf beeste langs die N1-snelweg het talle lede van AfriForum ure lank besig gehou.

’n Nasionale patrollie is Vrydagaand (08/04) deur AfriForum-takke oor die land heen gehou en as deel daarvan is ’n ongelukstoneel op die N1-snelweg beveilig.

Die bestuurder van ’n Toyota-bakkie met ’n sleepwa vol beeste het op die N1-suid tussen die Nelson Mandela-afrit en die Pellissier-brug beheer verloor en die pad verlaat. Die sleepwa het omgeslaan.

Die insittendes, ’n groep mans, was van Rustenburg na Mthatha onderweg.

Lede van AfriForum was binne minute op die toneel om die verkeer te help reguleer. ’n VR Medical-noodvoertuig se flikkerende rooi ligte het gehelp om motoriste teen die gevaar te waarsku, en verkeerskeëls is deur AfriForum-lede uitgeplaas om die toneel af te sper.

Die polisie was ook vir ’n kort rukkie op die toneel.

Twee inspekteurs van die Bloemfonteinse DBV, Werner Botha en Duan Matthee, was gou op die toneel om na die beeste se welstand om te sien.

Hulle het bevestig dat die wa nie geskik was om beeste te vervoer nie. Die diere is nie in die voorval beseer nie.

’n Insleepvoertuig het die bakkie en sleepwa tot op die snelweg getrek, maar die beeste moes die ongeveer 4 km tot by ’n kamp langs Nelson Mandela­rylaan gejaag word omdat hulle nie langs die snelweg op die sleepwa gelaai kon word nie. Botha het ook geweier dat die eienaars die beeste verder op die sleepwa vervoer.

Vier van die beeste is aangejaag tot by ’n kamp naby die Dam van Trane, maar een van die diere het weggebreek en heen en weer oor die snelweg gehardloop. AfriForum-lede het ure lank gesukkel om haar aan te jaag en op ’n veilige plek te kry.

Die DBV het Woensdag (13/04) bevestig dat vier van die beeste steeds by die DBV geskut word en dat bewys van eienaarskap gebring moet word. Die beeste is nie gebrandmerk nie.

Een van die diere is deur die owerhede van kant gemaak.

As deel van die nasionale patrollie het 96 AfriForum-lede van verskeie plaaslike takke, tesame met 45 ander noodpersoneel, Bloemfontein se paaie van 20:00 tot 06:00 in 73 voertuie patrolleer.

Volgens Christo Groenewald, distrikskoördineerder van Bloemfontein, was dit grootliks ’n stil aand. Buurtwaglede het hulp met 12 voorvalle verleen.

“Dit het alles gegaan oor sigbaarheid oor die stad heen.”

Carl Jackson, veiligheids­koördineerder van AfriForum se sektor 5, wat Pellissier, Fichardtpark en Hospitaalpark insluit, sê die verskillende sektore word in die week en oor naweke gepatrolleer. Hy sê daar is ’n behoefte aan nog mense wat patrollies kan ry om woonbuurte veilig te hou.

Van die ander voorvalle wat die aand aangemeld is, is ’n ongeluk op die N1-suid, ’n motorongeluk in Fichardtpark, drie ongelukke in Langenhovenpark en twee voertuie wat mekaar in die noorde van die stad gejaag het.

You need to be Logged In to leave a comment.