Beethoven span kroon op halfeeuviering

Die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) kon kwalik ’n beter afsluitingswerk vir sy jaarlange halfeeuviering gekies het as Beethoven se Simfonie nr. 9.


Die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) kon kwalik ’n beter afsluitingswerk vir sy jaarlange halfeeuviering gekies het as Beethoven se Simfonie nr. 9.

Die laaste beweging met die koorwerk “Ode aan die vreugde” is inderdaad ’n uiting deur almal wat die plek-plek hobbelrige 50 jaar met die orkes meegemaak het.

Beethoven 9 word op Saterdag 2 November om 19:30 in die Sand du Plessisteater aangebied.

Die Beethoven 9-konsert word ingelui met Leonard Bernstein se Chichester Psalms, ’n werk vir ’n kinderkoor en kindersolis. Vincent Khetha, ’n seunsopraan en lid van die Bloemfontein Kinderkoor (BCC), sal die solo-gedeelte sing.

Die BCC se dirigent, Werner Stander, sê Vincent is ’n begaafde sanger en sal ongetwyfeld die uitvoering tot sy reg laat kom.

’n Reusekoor van 160 sangers tree vir die Chichester Psalms aan. Benewens die kinderkoor sluit dit genooide sangers in, asook die Vrystaatse Universiteitskoor, wat ook deur Stander afgerig word.

Bernstein, meer bekend as ’n dirigent, het in die beperkte tyd tot sy beskikking graag gekomponeer. Vir die Chichester Psalms het hy die Hebreeuse teks uit die Bybelboek Psalms gebruik en dit is ook in dié taal waarin die werk in Bloemfontein gesing word.

Die psalms waarop die musiek gegrond is, was Bernstein se keuse. Vir die eerste van die drie bewegings het hy Psalm 100 en 108 gekies, die tweede beweging is gegrond op Psalm 2 en 23, en die derde op Psalm 131 en 133.

Die Chichester Psalms was ’n opdragwerk van die Chichester-katedraal se deken wat ’n katedraalfees in 1965 beplan het.

Die wêreldpremière met Bernstein as dirigent is in New York se Filharmoniesaal aangebied. Dit is twee weke later in die Chichester-katedraal onder leiding van die orrelis en koorleier John Birch uitgevoer.

Bernstein se Chichester Psalms is een van twee Joodse werke in sy oeuvre. Die ander komposisie is Simfonie nr. 3 (Kaddish) wat interessant genoeg ook ’n koor insluit en ook ’n Hebreeuse teks gebruik.

In teenstelling met Kaddish, wat Bernstein ná die dood van pres. John F. Kennedy gekomponeer het, is die Chichester Psalms ’n positiewe werk. Die sluipmoord op Kennedy het Bernstein diep ontstel en het neerslag gevind in die werk.

In 2018, met die 100-jaar-viering van die geliefde maestro se geboortedag, het drie katedraalkore saam met die Bournemouth-simfonieorkes onder die dirigent Marin Alsop opgetree.

Alsop was ’n student van Bernstein wat onder sy vlerk geneem is in ’n tyd toe ’n vrouedirigent ’n anomalie in dié mansdomein was, en geen musiekskool haar wou aanvaar nie.

Beethoven se Simfonie nr. 9 in D mineur, sy laaste voltooide simfonie, is 200 jaar gelede in 1824 die eerste keer uitgevoer.

Musikoloë en resensente beskou dit steeds as ’n meesterstuk in Westerse kunsmusiek en een van die grootste prestasies in die geskiedenis van musiek. Dit is ook die eerste voorbeeld van ’n simfonie met ’n vokale deel deur ’n belangrike komponis.

Die UV-koor en genooide sangers sal in Beethoven 9 optree.

Die soliste is Ilze van Staden (sopraan) van Pretoria, asook Teresa de Wit (mezzosopraan), Albertus Engelbrecht (tenoor) en Thesele Kemane (basbariton), almal verbonde aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) in Bloemfontein.

Daniel Boico, die FSSO se artistieke direkteur, sal die konsert van die dirigeer­podium lei.

Kaartjies kos R150 en is op webtickets.co.za beskikbaar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.