Met die aanbreek van 2024 wil ’n mens opnuut diep asem intrek om dié nuwe jaar so goed en voorbereid as moontlik aan te pak.
Lewensstyl-blogger Melissa se raad is om jou leefruimte vir die nuwe jaar gereed te kry, en deur dit te doen skep jy vir jouself positiewe energie om in te wees. Dit gaan oor skoonmaak en opruim, skryf sy op elephantontheroad.com.
Sy gee die volgende wenke:
Raak ontslae van besittings wat vir jou geen nut meer het nie.
Dit sluit van klere wat jy nie meer dra nie in, tot daardie klein, lankvergete items in ’n laai. Raak ook ontslae van goed wat stukkend is, en goed wat jy lank reeds nie meer gebruik nie. Verkoop dit, of skenk dit aan ’n niewinsgewende organisasie of ’n hulpbehoewende.
Maak jou huis skoon.
- Wanneer jy skoonmaakmiddels aankoop, kies dié wat suurlemoen- of laventel-gegeurd is omdat dié reuke stres natuurlik verminder wanneer dit ingeasem word.
- Maak die huisvensters skoon. Behalwe dat vensters as die huis se oë beskou word, help skoon vensters dat jy verder kyk as die vuil ruite; dat jy buitetoe kyk.
- Vee al die oppervlakke met ’n nat seeplap af. Dit sluit kombuistoonbanke, vensterbanke, bo-op kaste, gordynkappe en kosyne in. Vee, mop en stofsuig die vloere en matte.
Skuif die meubels.
Dit skep ’n gevoel van nuutheid en ’n vars begin, en dit kos geen geld nie.
Plaas potplante in jou huis en, wanneer moontlik, ’n vars bos blomme.
Dit is egter belangrik om die potplante goed te versorg, aangesien ’n kwynende potplant tot ’n negatiewe gevoel bydra.
Raak van die “rommel” in ander aspekte van jou lewe ontslae.
- Vee die e-posse in jou e-poslêers uit wat nie meer nodig is om te bêre nie, asook WhatsApp-boodskappe en foto’s op jou selfoon en rekenaar.
- Gaan deur jou kabinet, laai of lêer met allerlei dokumente, en raak ontslae van dit wat nie meer nodig is nie.
Op LifeCoach.com skryf Talane Miedaner dat ’n mens eintlik vroegtydig moet begin om jouself vir die nuwe jaar voor te berei.
Probeer om nie negatiewe of onafgehandelde gevoelens in die nuwe jaar in te sleep nie, is haar raad.
Sy stel voor dat ’n mens vir jouself ses vrae vra:
1. Voel ek kwaad, vyandiggesind of haatdraend teenoor iemand? Sy stel voor om maniere te kry om verby hierdie emosies te beweeg.
2. Het ek die afgelope jaar iets gedoen of gesê waarvoor ek om verskoning moet vra? Wat moet ek doen om dit reg te stel of om oor die gevoel van spyt te kom?
3. Het ek enigiets in my besit wat aan iemand anders behoort? Nou is die tyd om daardie boeke, klere of geld terug te gee.
4. Is daar enige item in my huis wat my hartseer laat voel, of wat ’n negatiewe verbintenis het? Gee dit weg vir iemand wat dit kan gebruik.
5. Is daar stukkende gebruiksartikels in die huis? Laat dit regmaak, of raak daarvan ontslae.
6. Is daar klein projekte wat ek kan afhandel voor die nuwe jaar begin? Wees ook eerlik met jouself: Indien jy byvoorbeeld al vir jare materiaal bêre om eendag vir jouself ’n kledingstuk te maak, vra jouself of jy dit ooit gaan doen. Gee dit weg, en bestee eerder die energie van ’n skuldgevoel oor iets wat jy nie gedoen kry nie, op iets wat ’n positiewe verskil maak. Wanneer ’n mens wel ’n onvoltooide taak of projek afhandel – al is dit hoe klein – gee dit energie en moed vir ’n volgende taak.