Die Memoriam-begraafplaas waar ’n groot skoonmaak-aksie Saterdag (15/04) plaasvind. Foto: Lientjie Mentz


Alles verloop volgens plan vir Saterdag (15/04) se beplande opruiming van Bloemfontein se Memorium-begraafplaas.

Talle woonbuurt­verenigings, ondernemings, veiligheidsondernemings en AfriForum staan saam om die begraafplaas sodoende toegankliker vir die publiek te maak.

Dirk Kotzé, DA-wyksraadslid in wie se wyk die begraafplaas val, sê mense wie se geliefdes hier begrawe is, kan gerus op die dag kom om die grafte netjies te maak.

“Veiligheids­beamptes van woonbuurt­verenigings, verteenwoordigers van veiligheids­ondernemings en AfriForum-buurtwaglede sal teenwoordig wees om dit vir die publiek veilig te maak,” het hy Dinsdag gesê.

Mense wat wil help om die begraafplaas se toegangsroetes netjies en toeganklik te maak, kan van 08:00 tot 12:00 aan die groot projek deelneem.

Daar word al sedert Februarie hieraan beplan.

Vrywilligers word gevra om handskoene, ’n graaf, hark en bossiekapper saam te bring.

Die laaste beplannings­vergadering voor die geleentheid word Donderdag om 09:00 in die NG kerk Onze Rust se saal gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.