Johannes Mahlumba en Jimmy van der Westhuizen by laasgenoemde se ouers se grafte, wat Saterdag (15/04) skoongemaak is.


Terwyl veiligheidsgroepe soos AfriForum en VR Security ’n ogie gehou het oor die veiligheid van die groep betrokkenes, kon mense Saterdag (15/04) grafte van hul geliefdes in die Memorium-begraafplaas skoon en netjies maak.

Een van die mense wat sy ouers se grafte kom skoonmaak het, is Jimmy van der Westhuizen.

Hy sê hy kom maak so af en toe die grafte skoon, maar dit is baie lekker dat daar ’n groep was wat die algemene netheid van die begraafplaas kom verbeter het.

Die projek, onder leiding van DA-wyksraadslid Dirk Kotzé, in wie se wyk dié groot begraafplaas val, is al sedert Februarie beplan en is deur verskeie woonbuurt­verenigings en ander organisasies ondersteun.

Mense het van 08:00 af met hul randjiesnyers, harke en grawe ingevaar en die gedeelte van die Memorium-begraafplaas om die krematorium, en dieper in na die ouer grafte, opgeruim.

Schalk van Vuuren van die Universitas-woonbuurtvereniging het met ’n John Deere-grassnyer werk verrig.

Hope vullis is in swartsakke gegooi om weggery te word.

Vrywilligers het ook iemand se beursie met bankkaarte tydens die opruiming in die begraafplaas opgetel.

Lede van onder meer die Gardeniapark-Wilgehof-, Universitas- woonbuurtvereniging; lede van die Ou Presidensie- Historiese Vereniging; asook DA-raadslede en talle individue het hul Saterdag-oggend opgeoffer om aan die projek deel te neem en die begraafplaas sodoende toegankliker te maak.

Tinkie en Johan Benson, inwoners van Genl. de Wet, het ook harke gebring en kom help met die harde werk.

“Dit maak ons ongemaklik dat dié begraafplaas so oorgroei is,” het Johan gesê.

“Dit was vir ons ’n lekker geleentheid om te kom deelneem aan die projek.”

Kotzé sê hy hoop Saterdag se opruiming was die begin van ’n lang proses om dié begraafplaas weer netjies te kry.

Hy vertel hoe die burgemeester van Mosselbaai begin het met ’n projek om die plaaslike begraafplaas netjies te maak, en hoe dit die betrokkenes sewe jaar geneem het om die begraafplaas weer op peil te kry.

“Om Bloemfontein se begraaf­plase netjies te maak gaan ’n lang proses wees,” sê Kotzé.

Christo Groenewald, gemeenskapskoördineerder van AfriForum, sê dit was vir hulle ’n plesier om betrokke te wees. Hy en sy gesin het ook familiegrafte skoongemaak.

“Ek hoop dit kan ’n gereelde projek wees,” meen Groenewald.

“Dit sal goed wees as meer mense betrokke kan raak, en ons so een keer ’n maand veiligheid kan verskaf en mense kan help om die begraafplaas en hul geliefdes se grafte skoon te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.