Die Mangaung-metro se munisipale begroting vir 2025-’26 prioritiseer nie die gemeenskap se behoeftes nie en reflekteer politieke eerder as openbare belang.
Só sê André Snyman, DA-raadslid oor die metro se begroting.
“Dit is tog belangriker dat ‘n metro ‘n groeie brandweerdiens het eerder as om R6 miljoen te bestee aan ‘n sokkerreeks,” sê Snyman.
“Die metro se brandweer en reddingsdiens is erg onderfinansier en het ‘n ernstige tekort aan personeel, voertuie en toerusting.
“Tog word slegs R410 000 vir dié afdeling oor drie jaar begroot, veel minder as die bykansR60 miljoen wat nodig is vir die basiese funksionering van die afdeling.”
Snyman sê die Botshabelo-brandweerstasie ontvang wel R17 miljoen, maar dit sal net genoeg wees om basiese konstruksie te doen en nie genoeg vir personeel of toerusting nie.
“Terselfdertyd word R18,6 miljoen begroot vir nie-essensiële uitgawes. Dit sluit in die R3 miljoen vir ‘n gala-aand, R6 miljoen vir die COSAFA Cup-toernooi en meer as R9 miljoen vir opgraderings na die ingange van Bloemfontein.”
Dit sluit R3,25 miljoen in vir Raymond Mhlabaweg, R4,1 miljoen in vir Maselspoortweg en R2,25 miljoen vir Nelson Mandelarylaan.
Snyman sê kantooropknappings is net so uitermatig, met R17,5 miljoen vir ‘n nuwe lugversorgingstelsel vir die Bram Fischergebou, R2 miljoen vir die herinrigting van die Gabriel Dichaba-
gebou en R2 miljoen vir sonkrag.
Hy sê ook R3 miljoen word begroot vir water en meganiese filtreerstelsels en R3 miljoen vir nuwe meubels.
Tydens sy begrotingstoespraak het die Mangaung-metro se uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, gesê daar is R29 miljoen vir die heropening van die Mangaung-dieretuin oor die volgende drie jaar beskikbaar. Snyman sê bykomend daartoe is ‘n verdere R4,8 miljoen begroot vir die aankoop van diere. “Dit terwyl die dieretuin juis gesluit moes word weens wanbestuur en geen volhoubare plan nie.”
Nthatisi het gesê die dieretuin verteenwoordig ‘n belangrike bestemming vir toeriste aan Bloemfontein.
“Daarom is dit belangrik dat die dieretuin heropen word en tot sy voormalige glorie herstel word,” het hy tydens die stadsrede op 27 Mei gesê.
Die metro moet voldoen aan die uitspraak van die Vrystaatse hooggeregshof waarin gesê word dat die
dieretuin slegs kan oopmaak indien daar aan al die wetgewings en regulasies voldoen word soos deur die departement ekonomiese ekonomiese sake, kleinsakeontwikkeling en toerisme (Destea) vasgestel.
Nog ‘n projek wat volgens Snyman uitermatig baie geld ontvang, is die Integrale Openbare Vervoernetwerk (IPTN).
“Dié wanfunksionele busdiens het nou weer R77,2 miljoen ontvang, terwyl R82 miljoen wat op die projek bestee is, nou vir bedrog ondersoek word. Dit is R159 miljoen wat ‘n risiko is, met min voordele vir die publiek.”
Snyman sê die begroting reflekteer leierskap van beeld bo inhoud, vierings bo diens en gerief bo gemeenskap.
“Die DA sou eerder wou sien dat geld bestee word aan water, sanitasie, paaie, nooddienste en langtermyn-infrastruktuur, terwyl deursigtigheid en toerekeningsvatbaarheid behou word.”




