Inwoners van die Vrystaat kry nie wat hulle toekom nie.
Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid in die Vrystaat, sê die provinsie het in die afgelope dekade meer as R1,3 miljard aan die nasionale regering teruggegee weens sy onderbesteding.
Cloete sê met dié geld kon die Vrystaatse regering minstens 6 600 huise, 65 staatskole of 13 staatshospitale gebou het.
In antwoord op ’n vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer het die LUR vir finansies in die provinsie, Gadija Brown, die onderbesteding toegeskryf aan voorwaardelike nasionale toekennings wat ontvang is.
Die nasionale tesourie is by magte om enige geld wat departemente jaarliks nie gebruik nie, terug te neem.
“Dit kom daarop neer dat die Vrystaat meer as R1,3 miljard verloor – wat vir infrastruktuur en dienslewering aangewend kon word, maar weens die Vrystaat se onderbesteding aan ander provinsies afgestaan is,” bevestig Cloete.
Hy sê in die afgelope vier jaar onder die premierskap van Sisi Ntombela en Mxolisi Dukwana het die Vrystaat meer as R737 miljoen verloor.
“Die departemente wat die meeste moes teruggee, is die departement van gesondheid (meer as R533 miljoen), die departement van onderwys (meer as R187 miljoen), die departement van menslike nedersettings (meer as R105 miljoen) en die departement van polisie, paaie en vervoer (meer as R89 miljoen).
Die ANC kla gereeld die Vrystaat kry te min uit die nasionale fiskus om die kwessies in die provinsie aan te pak.
Cloete skryf dit toe aan onkundige amptenare en swak projekbestuur weens die ANC se beleid van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.
“Dit terwyl dienslewering en infrastruktuur kwyn,” benadruk hy.