Vrywilligers en personeel van Solidariteit Helpende Hand het op 7 Desember by die Laerskool Dr. C.F. Visser 221 tassies gepak.
Kobus Venter, streeksbestuurder van Solidariteit Helpende Hand in die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap en Bo-Karoo sê dié organisasie het behoeftige kinders oor die Vrystaat heen geïdentifiseer wat kon aansoek doen om ’n ten volle gepakte skooltas waarmee hulle die 2025 skooljaar in gr. 1 kan aanpak.
“Die tassies het reeds elkeen ’n kind se naam en adres waarheen hulle gaan en dit gee die ouers die gemoedsrus dat hulle nie daaroor bekommerd hoef te wees nie. Kinders word glad nie blootgestel nie en kry die tassies reeds voor die skool begin.”
Kinders van oor die Vrystaat heen insluitend Bloemfontein en dorpe soos Bethlehem, Frankfort, Harrismith, Heilbron, Vrede, Hennenman, Welkom, Koppies, Parys, Petrus Steyn, Reitz, Kroonstad, Reddersburg, Wesselsbron en Brandfort gaan die tasse ontvang. Die inhoud van die tasse wat skoolbenodigdhede en skryfbehoeftes bevat, asook ’n Christelike storieboekie, se waarde is sowat R500.
“By Solidariteit Helpende Hand glo ons dat ontwikkeling, opvoeding en opleiding die beste manier is om die siklus van armoede te verbreek. Daarom is die gelyke wegspring van ’n gr. 1 met sy maatjies van kardinale belang.”