Die negende Mokala-boskonsert, met Mathys Roets en Jacobus Silwer as gaskunstenaars, word die naweek van 19 tot 21 April in die Mokala- Nasionale Park in die Noord-Kaap aangebied. Die park is sowat 80 km suid van Kimberley, langs die N12.
Ina Leamy van die SANParke-ereveldwagters se Vrystaatstreek nooi almal om saam met dié twee kunstenaars onder die sterre in Mokala te kuier.
“Mathys het geen bekendstelling nodig nie. Wie van ons ken nie ‘In my lewe’, of Mathys se weergawe van Leonard Cohen se ‘Hallelujah’ nie?”
Ná sy motorfietsongeluk in 2009 waarna hy permanent verlam in die onderlyf gelaat is, is hy ’n groot inspirasie vir baie mense. Hy sê in sy biografie,Steeds Mathys: “Hopelik kan ek vorentoe toenemend ’n positiewe invloed hê in die lewe van ander mense in rolstoele en mense met gestremdhede.”
Jacobus Silwer is ’n talentvolle sanger, liedjieskrywer en komponis van Bloemfontein.
“Hy dink dat musiek die beste manier is om mense bewus te maak van hoe hy voel. Hy hou daarvan om oor die lewe in die algemeen te skryf en hoop dat dit vir iemand iets sal beteken.”
Wanneer Jacobus nie komponeer of optree nie, skets hy. Bome is sy belangrikste fokuspunt, want volgens hom is daar ’n wysheid in bome wat met hom praat.
Die boskonsert word jaarliks deur die SANParke-ereveldwagters se Vrystaatstreek aangebied om die park se inkomste aan te vul. Die konsert lewer elke jaar ’n groot bydrae tot bewaring in Mokala.
Pakkette, waarvan die pryse afhang van die verblyf wat gekies word, sluit in verblyf vir twee nagte vir twee mense, ’n ete die Vrydagaand en ’n buffet-ete en kaartjies vir die konsert Saterdagaand.
Plek is nog beskikbaar in een van die luukse boomhuise. Daar is ook nog enkele chalets in Mosu, asook kampplek by Haak-en-steek en Motswedi beskikbaar.
Gaste kan gedurende die naweek die park, met onder meer gemsbokke, basterhartbeeste, bastergemsbokke, koedoes, buffels, kameelperde en swartwitpense, verken. ’n Groot verskeidenheid voëls is ook te sien.
Kom kuier saam met die kunstenaars en die ereveldwagters onder die Noord-Kaapse sterrehemel. Bel Leamy by 082-202-4202 of stuur ’n epos na ina@sanparksvolunteers.org om meer uit te vind of te bespreek.