Beker omhoog gelig

Agt van die seëvierende Shimlas se Varsitybeker-sterre is genooi om saam met die Cheetahs te oefen ná die Shimlas se oorwinning van die Varsitybeker Maandag in Bloemfontein.


Agt van die seëvierende Shimlas se Varsitybeker-sterre is genooi om saam met die Cheetahs te oefen.

Frans Steyn, direkteur van rugby, het Dinsdag gesê die Shimla-spelers  moet die res van die week nog hul Varsitybeker-glorie geniet, want hulle verdien dit.

Tot reg aan die einde het die spanning hoog geloop in die epiese eindstryd om die Varsitybeker wat op Maandag 22 April op Shimlapark tussen die Shimlas en Ikeys beslis is.

Die eindtelling van 45 – 42 in die Shimlas se guns, is ’n akkurate beeld van die stryd wat tussen dié twee spanne van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Universiteit van Wes-Kaap (UWK) gewoed het.

Teen die einde het die wedstryd voortgesnel op 42 punte elk met die Shimlas wat net nie nóg ’n drie kon druk nie, toe ’n strafskop aan die Shimlas toegeken is.

Ethan Wentzel het met sy skopskoen toegesien dat sy span kon spog met die titel wat die Shimlas in 2015 laas gekry het.

Steyn sê van die Shimlas wat nie beseer is nie, kan reeds volgende week in aanmerking kom vir wedstrydtyd (teen die Valke).

“Hulle het ongelooflik gedoen. Ek was daar en het self my longe uitgeskree,” sê Steyn.

“Ons moet sien wat van hulle kan doen en hopelik kan hulle die geleenthede benut,” sê Steyn.

Michael Annies (heelagter/vleuel), Zane Bester en Jooste Nel (albei senters), Ethan Wentzel (losskakel), Jandré Nel (skrumskakel), Pierre-Raymond Uys (flank/slot), Johnré Stopforth (slot) en Neels Volschenk (flank/agtsteman) is die name wat Steyn afgelees het om hulle by die Cheetahs aan te sluit. Enkele van hulle het al voorheen saam met die Cheetahs geoefen.

In die stryd Maandag het die Shimlas se skrumskakel Jandré Nel het gelyk of hy in ’n oorlog was toe hy aan die einde van die wedstryd as die ‘Player that Rocks’ aangewys is. Dit was net nog ’n teken van hoeveel bloed, sweet en trane dit sy span gekos het om by dié oorwinning te kom.

Kort ná die wedstryd om 19:00 begin het, was dit die Ikeys wat gelyk het of hulle alleen op die veld is nadat Keagan Blackenberg en kort daarna Jonathan Roche blitsig twee drieë gedruk het.

Nel het die Shimlas se eerste drie gedruk voordat Liyema Mgwigwi oor die doellyn is.

Teen halftyd het die Ikeys voor geloop met 31 – 26 en het die Shimlas besef hulle sal moet hard veg om weer voor te kom.

Dinge het weer positief begin lyk vir die Shimlas toe Nel vroeg in die tweede helfte ’n sewepunt-drie gedruk het. Hy het uit die Shimlas se halfgebied gehardloop om dié drie te druk en hoewel aanvanklik net vyf punte toegeken is, is dit later na sewe punte verhoog wat deel van die Varsity-beker se reëls is. Met dié stewige sewe punte in die sakkie, het Siviwe Zondani nog ’n drie gedruk voordat Ikeys weer die telling gelyk gemaak het tot 42 elk.

Die spanning het hoog geloop toe Wentzel regmaak vir dié bepalende skop. Sou hy nie oorskop nie en die telling gelyk wees met die einde van die wedstryd, sou die wedstryd moes voortgaan.

Gelukkig was Wentzel se skopskoen akkuraat en kon die Shimlas en die tuisskare begin feesvier met die Varsitybeker wat welverdiend in Bloemfontein bly.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.