Gaste by die uitstalling is van links Juan Eksteen, Talia Delport, Eugene Venter (bestuurder van Kotzé-kunsgalery), Roné en Harold Verster.

Lientjie Mentz

’n Uitstalling van die werk van wyle Duggie du Toit is Dinsdag (13/09) by die Kotzé-kunsgalery in Genl. Dan Pienaarrylaan geopen.

Floris Kotzé het tydens die opening meer vertel oor dié gewilde Suid-Afrikaanse kunstenaar.

Du Toit, wat in 2018 oorlede is, was ’n bekende Suid-Afrikaanse skilder wat sy laaste jare in Viljoenskroon deurgebring het.

Hy is in 1943 in Johannesburg gebore en het in sy twintigerjare, terwyl hy op die myne gewerk het, begin skilder. Later het hy in die meubelbedryf gewerk.

Toe hy sy vrou, Suzette, ontmoet het, het sy hom oortuig om heeltyds te begin skilder.

Aanvanklik het hy sonder opleiding geskilder en is geïnspireer deur die werke van John Singer Sargent, Anders Zorn en meesters soos Rembrandt, Vermeer en Sorolla.

Later het hy kuns aan die College for Famous Artists studeer.

Hy het verkies om met olieverf te skilder. Sy werke word beskryf as klassiek-impressionisties.

Sy werke spreek van ’n baie besonderse tegniek waarmee hy lig en skadu bemeester het.

In die uitstalling is daar ’n kombinasie van portretstudies van mans en stillewe-skilderye van onder meer granate, groente en blomme asook landskaptonele.

Kotzé het op die opening van die uitstalling gesê dié skilderye is landwyd gesog en ’n gunsteling onder beleggers.

Hy het ook op die geleentheid die nuwe bestuurder van die galery, Eugene Venter, aan gaste voorgestel wat gaan toesien dat sake by die galery glad verloop.

Die uitstalling duur nog tot 24 September.

You need to be Logged In to leave a comment.