Lede van die FAK het Donderdag (14/07) ’n vergadering saam met ander belanghebbendes by die Ou Presidensie in President Brandstraat bygewoon om te sien hoe hulle betrokke kan raak by die toekoms van dié museum en sy versameling.
Dit volg ná foto’s op sosiale media en ’n berig in Bloemnuus op 7 Julie oor die verval by die museum.
Die woning van eertydse presidente van die Republiek van die Oranje Vrystaat, is in 1985 as ’n museum ingewy. Lambertus van Rensburg, voorsitter van die Ou Presidensie Historiese Vereniging sê dit het destyds R1 miljoen gekos om die gebou op te knap en as museum in te rig.
Hy sê die Vriende van die Ou Presidensie is in 2001 gestig en het in 2010 weer herleef.
In 1914 is die naam verander na die Ou Presidensie Historiese Vereniging wat as ondersteuningsgroep in samewerking met die Vrystaatse departement sport, kuns, kultuur en ontspanning se museumdienste die museum vir die nageslag wil bewaar. Sedert klagtes van die verval van die eens pragtige tuin en die skade aan die plafonne en mure asook matte in die museum, het belangegroepe besluit om saam met die departement te kyk na die toekoms van dié mu- seum.
Intussen het lede van die gemeenskap, die vereniging en Adriaan de Bruyn van die VF Plus begin om die terrein netjies te maak.
Werner van der Walt, ’n kenner op die gebied van persiese tapyte, sê een van die eerste projekte wat dringend onderneem moet word, is die skoonmaak van dié tapyte.
’n Volgende vergadering gaan binnekort gehou word waarop enigeen wat betrokke wil raak, ook insette sal kan lewer.