’n Groot vloot van 462 voertuie is Dinsdag (16/08) in Bloemfontein aan verskeie provinsiale departemente oorhandig.Foto’s: Lientjie Mentz


In die hoop dat dienslewering in die Vrystaat sal verbeter, het premier Sisi Ntombela Dinsdag (16/08) 462 nuwe voertuie aan verskeie provinsiale departemente oorhandig.

“Ons wil gehaltediens vir inwoners van die Vrystaat lewer,” het Ntombela op die bekendstelling van Operasie Phethisa by Bobbiespark gesê. Die operasie is deel van die provinsiale regering se maniere om beloftes na te kom om gemeenskappe met basiese dienslewering te ondersteun.

“Ná pres. Cyril Ramaphosa se besoek aan Mangaung vroeër vanjaar, het ons deur die Vrystaat gereis om te bepaal waar die grootste uitdagings is,” het sy gesê.

Voertuie is tot die beskikking van verskeie departemente gestel.

Die meeste van die voertuie (191) gaan aan die departement van gesondheid. Dit sluit ambulanse en busse wat in ramp-situasies gebruik kan word, in.

Die departement van polisie, paaie en vervoer het 99 voertuie gekry.

Ntombela sê benewens polisievoertuie wat aan verskeie polisiekantore oor die provinsie heen toegeken is, sluit dit ook spesiale masjinerie in wat gebruik gaan word met projekte soos om slaggate in provinsiale paaie te vul.

Die departement van maatskaplike werk ontvang 102 voertuie wat in besonder deur maatskaplike werkers gebruik gaan word om hul take te verrig.

Ses trekkers is ook aan die departement van landbou toegeken.

Die departement van onderwys ontvang 25 bakkies wat veral gebruik gaan word met die merk van matriek-eksamens.

Ntombela sê al die voertuie is toegerus met bestuurstelsels wat die misbruik van voertuie en ook die diefstal van voertuie sal beperk.

“Die voertuie moet gebruik word vir die primêre funksie waarvoor dit bedoel is,gebruik te word,” het sy amptenare gemaan.

Die minister van polsie, genl. Bheki Cele was ook op die geleentheid om die misdaadbekampingsoptrede, Operasie Phethisa Molao, bekend te stel.

Talle internskapprogramme van die regering se uitgebreide openbarewerke-program gaan ook in al vyf distrikte van die provinsie ingestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.