Die groot uitdaging vir Vrystaatse skole in die nuwe skooljaar is die plasing van kinders, veral in die groter dorpe waar ouers spesifieke skole verkies.
Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, sê die Brebner High School in Bloemfontein het byvoorbeeld 1 600 aansoeke net vir gr. 8 ontvang, terwyl hy plek vir 300 leerlinge in dié graad het.
Volgens hom maak twee nuwe laerskole en ’n hoërskool in Mangaung oop.
Die departement het nie die getalle van ongeplaaste leerlinge nie, maar hoop om almal einde Januarie geplaas te hê.
Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), is onbewus van krisispunte wat skoleplasings betref.
“Ons het nie dieselfde druk as Gauteng en die Wes-Kaap met ’n invloei van mense wat graag vir werksgeleenthede hier wil kom bly nie. Ons het soms eintlik ietwat van ’n uitvloei.”
Deacon sê die druk op die departement wat skoleplasings betref, is meestal waar ouers voorkeurskole vir hul kinders het.
“Ek verstaan dat ’n ouer verby ’n skool met ’n 40%-slaagsyfer sal ry of stap om sy kind by ’n skool met ’n 98%-slaagsyfer in te skryf.
“Die uitdaging vir die departement is om seker te maak dat elke skool ’n goeie skool is. Daar word nog te min daaraan gedoen.”
Ndaba sê die provinsie is voorbereid op die skooljaar.
Die departement het al die nodige skryfbehoeftes en leerlingondersteuningsmateriaal aan sy skole gelewer en almal het funksionerende beheerliggame.
“Ons wil verseker dat leer en onderrig van die eerste skooldag af plaasvind.”
Vrystaatse leerlinge by skole wat deel is van die departement van basiese onderwys se skolevoedingsprogram het van Woensdag (12/01) af maaltye ontvang.
Ook Deacon verwag dat die heropening van die Vrystaatse skole goed sal verloop. Talle skole het al verlede jaar die meeste voorbereidingswerk gedoen.
“Voordat ’n goeie skoolhoof sy personeel (met verlof) laat gaan, maak hy seker alles is gereed wanneer die nuwe jaar begin.
“Die Vrystaatse onderwysdepartement het die afgelope jaar of twee sy kant gebring deur betyds materiaal na skole te bring, so ons weet nie van enige krisis in die Vrystaat nie.”
Volgens Deacon het dié departement baie verbeter wat betref dié aankoop- en verspreidingsproses.
Deacon meen die grootste skole-uitdaging op nasionale vlak bly om elke leerling élke dag by die skool te kry – en nie op ’n rotasiegrondslag nie. Daar is nog nie voorsiening in die Covid-19-riglyne gemaak om die sosiale afstand van 1 m by skole te verminder nie, dus is dit vir sommige skole moeilik om alle leerlinge te akkommodeer.
“Die stelsel verloor kinders wat tou opgooi en nie terugkom as hulle nie gereeld by die skool is nie. Ons stuur op ’n nasionale krisis af as ons kinders nie elke dag in die skool is nie,” sê Deacon.
“Dit maak nie sin dat ons buitemuurse aktiwiteite 100% hervat word, maar die kinders sit nie langs mekaar en leer nie.
“As ek in die klaskamer langs my maatjie sit, het ek ’n masker op. As ek saam met hom rugby speel, het ek nie ’n masker op nie.”
Deacon sê elke skooldag in 2022 móét tel.