Die produksie Annie+Helen is vanjaar op die Vrystaat Kunstefees te sien. Van links is Cintaine Schutte (Annie), Eldon van der Merwe (James), Judi Hattingh (Helen), Bianca Flanders (Kate) en Stian Bam (kaptein Arthur Keller). Foto: Hans van der Veen

‘n Toneelstuk wat op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opslae gemaak het deur beloon te word met tien Kanna-benoemings en ‘n benoeming as beste nuweling, maak van 17 tot 19 Julie sy buiging op die Vrystaat Kunstefees.

Die jonge Judi Hattingh (13) speel die rol van Helen Keller in die toneelstuk Annie+Helen, en is die jongste speler tot nog toe om ‘n Kanna-eerbewys vir toneelspel te ontvang.

Annie+Helen is ‘n verhaal saamgestel uit The Miracle Worker van William Gibson, The Story of my Life deur Helen Keller en Beyond the Miracle Worker deur Kim E. Nielson.

Die storie van Helen Keller is deel van ons kollektiewe geheue: Die blinde doofstom dogter van ‘n gesiene familie, wat paaie kruis met die jong onderwyseres, Annie Sullivan. Dit is ‘n ontmoeting wat albei se lewe onherroeplik verander en wat oorsprong gee aan ‘n lewenslange vriendskap. Dit is ook die eerste werklike kampvegter vir die regte van gestremdes.

Annie+Helen, Hennie van Greunen se nuwe teksverwerking van die Oscar-bekroonde film en Broadway-toneelproduksie, The Miracle Worker, delf dieper in Annie se traumatiese lewe as jong dogter.

Dit sluit haar dae in die Tewksbury armhuis in, wat sy as volwassene in ‘n kluis in haar kop “toegesluit het”, tot by haar verhouding met haar boetie, wat die res van haar lewe haar sou bybly. Die storie vertel hoe dit haar gevorm het in haar stryd om vir Helen Keller een ding te leer: Taal, die verhouding tussen woorde en dinge, waarsonder Helen net ‘n gevangene was; ‘n dwaalgees in haar eie stil, donker kop.

Eerder as die rolprent, fokus Annie+Helen meer op die onmiddellike gesin en die invloed wat Helen se gestremdheid op elke lid van die gesin het. Kate, haar ma, gespeel deur die Kanna-bekroonde aktrise en skrywer Bianca Flanders, moet haar lewe herkalibreer met Helen se werklikheid en, in ‘n era waar vroueregte skaars bestaan, moet sy baklei vir die regte van haar dogter.

Kaptein Arthur Keller (gespeel deur die veelbekroonde akteur Stian Bam) is ‘n veteraan van die Amerikaanse Burgeroorlog, maar sy verhouding met sy gesin kantel wanneer hy voor die vraagstuk van sy dogter te staan kom.

James, Helen se broer, gespeel deur die skitterende jong akteur Eldon van der Merwe, moet tevrede wees dat hy nou “die blinde dogter se broer is”, en nie ‘n jong, ambisieuse man met sy eie drome nie.

Helen word gespeel deur Judi, ‘n gr.7-leerling van die Laerskool Curro Durbanville, wat haar laerskoolloopbaan afsluit deur haar plek vol te staan in hierdie geselskap.

Judi se talent is die afgelope paar jaar ontwikkel deur haar onderwysers wat die geleenthede van Curro se skeppende platform, Curro Create, aangryp. Sy is óf landswye wenner, of naaswenner van die #Straight2Camera Monoloogfees.

Sy is in 2024 gekies vir Curro Create se Advanced Mentorship Programme, waar regisseur-mentor Hennie van Greunen haar uitgedaag het om te doen wat vir haar, wat slim, verbaal en ongelooflik uitdrukkingsvol is, sal uitdaag. Dit is deur die karakter van Helen, wat geen taal het nie en heeltyd op die afgrond tussen woede en wanhoop beweeg, te speel.

Die professionele rolverdeling, sowel as die produksiespan, is ook kunstenaar-mentors van Curro Create se nasionale projekte.

Van Greunen het die teks en regie behartig en Pedro Kruger is die vervaardiger.

Die produksie is vir slegs vier vertonings by die Vrystaat Kunstefees: Donderdag 17 Julie om 20:30, Vrydag 18 Julie om 09:00 en 20:30 en Saterdag 19 Julie om 09:30. Al die vertonings is in die Wynand Mouton-teater. Kaartjies is beskikbaar op webtickets.co.za en kos R200.

You need to be Logged In to leave a comment.