’n Bloemfonteiner is aangewys as die speler van die toernooi in die o.25-ouderdomsgroep in die Suid-Afrikaanse Junior Rolbaltoernooi wat verlede week in Bloemfontein aangebied is.
Sowat 248 spelers van 18 provinsiale distrikte het in die o.25-, o.18- en o.15-ouderdomsgroepe aan die toernooi deelgeneem.
Die o.15- en o.18-spelers het dit van 3 April af om die topplekke op die Orangia-rolbalbane uitgespook, terwyl die o.25-spanne op die bane van die Oudstudente-rolbalklub gespeel het.
Die eindstryd, by Orangia, het Donderdag (06/04) plaasgevind.
Mardian Bezuidenhout (19) van die Munisipale rolbalklub en lid van die o.25-span is as die speler van die toernooi in sy afdeling aangewys.
Marius Janse van Rensburg, afrigter van die Suid-Vrystaatspanne, sê die spelers het mooi verbeter op die spelpeil wat in die vorige jaar se toernooi gelewer is.
Vier Boje-kinders het almal aan die toernooi deelgeneem, in die drie ouderdomsgroepe. Ewald (12) ontvang tuisonderrig en Erich (8) is ’n leerling aan die Laerskool Willem Postma. Hulle het albei aan die o.15-toernooi deelgeneem. Dit was Erich se eerste rolbaltoernooi.
Hul sussies Liebe (18) en Carissa (15) het onderskeidelik vir die o.25- en o.18-span gespeel. Liebe is ’n kranige atleet en Carissa het vir die Vrystaat se o.16-meisieskrieketspan gespeel. Sy speel ook graag gholf.