Die toppresteerders is die Vrystaatse koi-tak is ná afloop van die skou by die Greenside-kwekery in Langenhovenpark gekroon. Van links is Gys Briedenhann, wat die reserwekampioen en die kampioen volwasse vis vertoon het, Christo van Blerk, wat die grootkampioen-vis vertoon het, en Brian Kruger wat die beste selfgeteelde vis, die grootkampioen vir junior visse en die beste Showa-variëteit vertoon het. Kruger, van Reddersburg, se seuntjie Keagan (4) wat self met koi-visse teel, is in sy arms. Briedenhann en Van Blerk is van Bloemfontein. Foto: Charles Smith


Dit was ’n roerende oomblik op die Vrystaat koi-tak se skou toe ’n jong teler die trofee wat namens sy oorlede broer ingestel is, aan die klublid oorhandig het wat die grootste verskil maak.

Die Derek Benbrook-wisseltrofee is deur sy gesin ingestel nadat dié jong en entoesiastiese koi-teler drie jaar gelede op 21 in ’n motorongeluk dood is. Sy broer, Douglas (16), het die trofee aan Gys Briedenhann oorhandig wat altyd bereid is om ander klublede te help.

Susara Benbrook, hul ma, sê Derek se visse is steeds in die gesin se besit en word daagliks met liefde deur Douglas, ’n leerling van die Hoërskool Sand du Plessis, versorg.

Christo van Blerk van Bloemfontein se Kohaku-koi is as die beste vis op die skou aangewys is. Dié vis is sowat R45 000 tot R50 000 werd.

Dié wit vis met rooi kolle wat pragtige patrone oor sy rug vorm, is drie jaar oud. Die vis se vorm, kleur en patroon en sy gesondheid het ’n rol gespeel in sy aanwysing as wenner.

Briedenhann, wat verskeie trofees vir onder meer die reserwe-grootkampioen en die grootkampioen volwasse koi ontvang het, en Brian Kruger van Reddersburg was die ander klublede wat presteer het.

Die beoordelaars vanjaar was Clint Chen, Harry Beckx en Mike Harvey, almal van KwaZulu-Natal, en Jim Phillips van Gauteng.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article