Die onstabiliteit in die Mangaung-metro is een van die grootste redes waarom dienslewering in chaos is en hoekom skuld van miljoene nie betaal word nie.
Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) in Mangaung het homself verlede week gedistansieer van die aanstelling van departementshoofde wat nou gedoen word.
In ’n mediaverklaring deur Jimmy Motse, streeksvoorsiter van Samwu, wat op 4 Oktober uitgereik is, sê hy dit is vreemd dat die proses om departementshoofde aan te stel verhaas word terwyl daar steeds nie ’n munisipale stadsbestuurder is aan wie hulle moet verslag doen nie.
Verder is daar groot kommer oor die hofuitspraak op 7 September wat die metro beveel om R 6 004 069,99 aan Razzmatazz Civil te betaal vir werk wat aan die Vereenigingrylaan-verlengingpad gedoen is.
Razzmatazz het sonder sukses verskeie pogings aangewend om alternatiewe afbetalingsooreenkomste met die metro te bewerkstellig.
’n Lasbrief is ondertussen uitgereik vir beslaglegging op die metro se bates weens dié skuld en rente van meer as R1 miljoen wat op die skuld betaalbaar is.
Mare-Lize Wewege van die VF Plus sê die metro kon veel eerder hierdie geld gebruik het om broodnodige dienste te lewer.
“Nou moet dit as vrugtelose uitgawe gelys word.”
Sy sê die VF Plus dring daarop aan dat die waarnemende burgemeester, Gregory Nthatisi, en die waarnemende stadsbestuurder, Maureen Ntshudisane, ondersoek instel waarom die finansiële hoof, Thami Sitishi, en die algemene bestuurder van regsdienste, Charlie Naidoo, nie kon toesien dat hofbevele oor die betaling nagekom is nie.
“Daar moet streng opgetree word teen amptenare wat nie hul pligte nakom nie. Die afgelope twee jaar ontduik amptenare aanspreeklikheid aangesien die meeste net waarneem in vakante poste,” sê sy in ’n verklaring.
Wewege sê daar is nie meer plek vir enige vorm van vermorsing nie en belastingbetalers het die reg om te verwag dat hul geld verantwoordelik bestuur word.
“Die VF Plus sal aanhou om sy waghondfunksie te vervul en toesien dat amptenare verantwoordelik gehou word vir enige ongerymdhede en die versaking van hul pligte teenoor die inwoners van Mangaung.”