Miskien is die invloed van beurtkrag op die verkeer nie so dramaties in Bloemfontein soos in stede soos Johannesburg en Kaapstad nie, maar dit bring steeds reuse-frustrasies vir motoriste.
Oor die algemeen is daar talle bestuurders in Bloemfontein wat nie ander in ag neem nie.
Tydens die beurtkrag waar verkeersligte nie werk nie, is dit nog belangriker dat mense geduld aan die dag lê.
In teorie weet almal dat ’n verkeerslig ’n vierrigting-stop word wanneer dit nie werk nie.
“Talle bestuurders bly nie by die reël nie en veroorsaak chaos by verkeersligte,” sê Eugene Herbert van MasterDrive.
Hy gee ’n paar wenke wat jy kan toepas om veilig te wees wanneer verkeersligte in vierrigting-stopstrate verander.
* Stop by die verkeerslig, selfs al sien jy nie ander verkeer by die kruising nie.
* Gee toe aan die motors wat voor jou by die kruising is.
* Onthou die verkeer vloei uit meer as vier rigtings – daar is dié wat reguit oor die kruising ry sowel as dié wat oor die kruising regs moet draai.
* Moet nooit aanneem dat wanneer dit jou beurt is om te draai, jy dit kan doen nie. Maak seker daar kom nie verkeer uit een van die ander bane nie.
* As dit jou beurt is om te ry en jy begin vorentoe beweeg en daar is ’n ander motor wat voor jou gaan inbeweeg, laat hom liewer ry eerder as om in ’n moontlike ongeluk of padwoede-insident te beland.
* Moenie van voetgangers vergeet nie. In Suid-Afrika gehoorsaam voetgangers oor die algemeen nie die padreëls nie en kruis die pad enige plek. Maak seker daar beland nie skielik ’n voetganger voor jou nie.
* Hou ook jou oë oop vir onverantwoordelike bestuurders wat aan jou verkeerde kant ry en oor die kruising ry.
Die belangrikste wenk wanneer dit kom by ’n verkeerslig wat nie werk nie, is om seker te maak jy weet wat die ander mense doen voordat jy ry en die kruising oorsteek.
Lê meer geduld aan die dag as wat jy gewoonlik sou doen. Dit kan jou lewe red.