In vurige uitsprake op die sosiale media het lede van die publiek die afgelope tyd hul misnoeë in die nuwe wetsontwerp wat betreding op private eiendom reguleer, te kenne gegee.
Dr. Marda Horn, senior lektor in privaatreg aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê die nuwe wetsontwerp gaan nie so ’n groot invloed hê soos wat mense vrees nie.
Indien hierdie wetsontwerp die pad suksesvol stap om ingestel te word, sal dit die Betredingswet van 1959 vervang.
“Hoewel die proses nog in die beginstadium is en die eerste ronde vir openbare kommentaar teen 16 September sluit, het die voorlegging van die wetsontwerp reeds baie mense die harnas ingejaag,” sê Horn.
“Die vraag is nou: Is dit nodig om TikTok-video’s en foto’s van kennisgewingborde op elke denkbare buurtgroep te stuur? Hoe radikaal gaan hierdie beoogde wet die situasie soos dit nou is, verander?
“Baie kortliks is die antwoord: nee . . . Soos gewoonlik met baie inligting op die sosiale media, ruk mense dit uit verband en vererger hulle dit sodanig dat net die heel negatiefste van moontlikhede voorsien word. Kom ons haal diep asem en bekyk die situasie meer objektief.
“Volgens die wetsontwerp moet daar ’n kennisgewing opgerig word wat betreders waarsku dat die eiendom private eiendom is, maar dit is nie veel anders as wat nou die situasie is met die gewone ‘reg van toegang voorbehou’-kennisgewings is nie.”
Horn sê dit beteken verseker nie dat jy nou voor jou huis ’n kennisgewing moet plaas om dit as private eiendom te verklaar en betreding te verbied nie.
“Hierdie kennisgewings moet eerder sigbaar wees op plekke waar dit nie so duidelik is dat dit private eiendom is nie, soos winkelsentrums se parkeerterreine, parke en so meer.
“Die wetsontwerp stel dit verder ook nie dat jy al jou regte verloor as daar nie ’n kennisgewingbord opgerig is nie. Dit maak spesifiek voorsiening vir ’n geval waarin jy die polisie moet skakel omdat daar ’n betreder op jou erf is en hoe die polisie moet optree.”
Sy verduidelik dit neem nie jou reg weg om jouself te beskerm in geval van ’n direkte en dreigende aanval op jou lewe of eiendom nie.
“Die wetsontwerp gee nie voor dat dit die gewone reg wat mense geniet om hulself en hul eiendom teen aanvallers te beskerm, wil wysig of afskaf nie. Die gemeenregtelike verweer van ‘noodweer’ bly steeds staan.
“Verder gee dit spesifieke leiding aan die Suid-Afrikaanse polisie oor wat hulle te doen staan. Dit kan ook die situasie vir die polisie verhelder, veral in die lig van die kritiek dat die polisie soms voorkom asof hulle nie weet hoe om in sekere omstandighede op te tree nie.”
Sy sê daar sal mooi besin moet word hoe die wetsontwerp met die grondhervormingswette soos die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg versoen gaan word, sodat die twee wette mekaar nie weerspreek nie.
“Hierdie wetsontwerp is nog in sy kinderskoene en sal nog op baie terreine bespreek en uitmekaargetrek word voordat dit volwaardig wet is.
“Ek meen dis nodig dat verouderde wetgewing soos die Betredingswet vernuwe word, aangesien ons reeds in die derde dekade van ? grondwetlike demokrasie is. Hierdie wetsontwerp is ’n poging om dit te bereik. In daardie opsig behoort dit verwelkom te word.
“Ek meen dat die voorskrifte in die wetsontwerp redelik is en indien van die kwessies, soos die wisselwerking met grondhervormingswetgewing, uitgeklaar word, sal dit in sommige opsigte, soos byvoorbeeld met die polisie se optrede wat beter beskryf word, ’n definitiewe verbetering teweeg bring.”