Betrokkenheid kan skade blus

Die Bloemfontein-buurtwagte van AfriForum het op 23 April gehelp om ’n veldbrand op ’n plaas naby Pellissier in Bloemfontein onder beheer te bring.


Die Bloemfontein-buurtwagte van AfriForum het op 23 April gehelp om ’n veldbrand op ’n plaas naby Pellissier in Bloemfontein onder beheer te bring.

Dit kom nadat buurtwagte omstreeks 12:53 ’n boodskap op hul brandspan-groep ontvang het dat ’n brand op die plaas Brandkop uitgebreek het en dat hulp benodig word.

Die Pellissier-buurtwag, bekend as Sektor 5, is ook deur ITR-sekuriteit en die Fichardtpark Woonbuurt­vereniging (FWA) verwittig omdat AfriForum brandspanne binne sy buurtwagstrukture het.

Die buurtwag het dadelik sy spanne ontbied, terwyl Afri­Forum se lugvleuel gehelp het om brandpunte uit te wys en die spanne via radiokommunikasie na die betrokke gebiede te stuur.

Ongeveer 108 ha van die plaas het afgebrand, hoewel die vuur naby aan die woonbuurt vinnig geblus is.

Om 17:00 was die vuur onder beheer en het buurtwaglede onttrek.

“AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte het lede wat opgelei is om in hierdie situasies hulp aan verskeie betrokkenes, insluitend die brandweer, te verleen,” het Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, in verband met hul bystand verduidelik.

“Die koop van brand­bestrydingtoerusting bemagtig ons buurtwagte om ons gemeenskappe veiliger te hou.

“Dankie aan al AfriForum se brandspanne, die Mangaung-metro se brandweer, die Leeuwberg- landelike vereniging, die betrokke brand­verenigings, die boere­vereniging en lede van die gemeenskap vir hul hulp.

“Ek wil graag die boere en kleinhoewe-eienaars in die omgewing aanmoedig om by hulle plaaslike brandvereniging aan te sluit om sodoende die korrekte prosedures te volg wanneer hulle beheerde brande uitvoer en brandpaaie maak om verwoesting te vermy.

“Ek moedig ook die gemeenskap aan om hulle by hul plaaslike AfriForum-tak aan te sluit en ’n verskil te maak,” het Groenewald genooi.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.