Dieselfde mense met hul oranje oorpakke wat die afgelope maande gehelp het om die rommel wat die hele Bloemfontein vol lê op te ruim, het van hul werk ongedaan gemaak uit woede omdat hulle geen betaling ontvang nie.
Hulle het Vrydag (13/05) die inhoud van oranje vullissakke in die omgewing van die Bram Fischer-gebou (Glaspaleis) uitgegooi en vullis was ook op Hertzogplein en in Pres. Brand- en Charlotte Maxekestraat gestrooi. Die groep het by die Glaspaleis saamgetrek om hul misnoeë te kenne te gee en het toegang tot die gebou versper.
Werkers wat as deel van die tydelike program vir openbare indiensneming (PEP) aangestel is, het Vrydag weer gehoor dat hulle nie betaal word nie.
Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër R19,7 miljoen beskikbaar gestel vir tydelike werkers om met diensverskaffing in die stad te help. Die omvang van kontrakte is veronderstel om tot einde Junie te duur.
Die werkers sê hulle is woedend omdat hulle bly werk en geen betaling ontvang nie. Nthabeleng Loape sê hulle werk nou al drie maande sonder betaling.
“Eers het hulle gesê ons sal op 15 Maart ons lone ontvang, toe weer op 15 April en toe 13 Mei. Nou moet ons hoor ons gaan eers aan die einde van Mei betaal word.”
Die 1 500 mense is aangestel om in woonbuurte oor die stad heen te werk.
Die waarnemende stadsbestuurder, Tebogo Motlashuping, het Donderdag in ’n brief aan PEP-werkers gesê dat probleme met die betalingstelsel die oorsaak daarvan is dat hulle nog nie betaal is nie.
Hy sê die betaalstaat-eenhede van die munisipaliteit werk nou daaraan om al die inligting van die werknemers in die stelsel in te voer.
“Aan die einde van April het die munisipaliteit gesukkel met agterstand van betaling van munisipale werkers, soos vir oortydbetaling.”
Hy sê verder dat daar tegniese redes is waarom betalings nog nie gedoen kon word nie.
“Die munisipaliteit is daartoe verbind om uitstaande salarisse aan die einde van Mei te betaal.”
“PEP is belangrik vir die stad om diensverskaffing te versnel,” sê Motlashuping in die brief.
Die werkers sê dit is onregverdig van die munisipaliteit om van hulle te verwag om sonder vergoeding te werk, boonop al vir drie maande.
Loape voel nie seker dat hulle die PEP-lone gaan ontvang nie.
“Toe ons dokumente moes onderteken, het hulle vir ons dokumente van die uitgebreide program vir openbare werk (EPWP) gegee om te teken. Volgens haar ontvang EPWP-werkers net R2 004 per maand, teenoor die R3 500 vir PEP-werkers.
Intussen sê mense oor die stad heen dié werkers werk dikwels net tot 12:00 en dan verdwyn hulle.
Inwoners was aanvanklik dankbaar vir die werkers wat gehelp het om die groot vulliskwessie in talle woonbuurte in die stad te pak. PEP-werkers het glo ook ’n deel van die Memorium-begraafplaas skoongemaak en het opruimingswerk in die Heidedal-begraafplaas gedoen.
Ná Ramaphosa se besoeke aan Bloemfontein in April was die PEP-werkers baie minder sigbaar.