Beweeg voort, ongeag houe wat neerreën

Sedert ek jare gelede van “mindfulness” begin leer het, probeer ek om my gedagtes te rig op goeie, positiewe en opbouende dinge.


Sedert ek jare gelede van “mindfulness” begin leer het, probeer ek om my gedagtes te rig op goeie, positiewe en opbouende dinge.

Dankbaarheid het my standaard-ingesteldheid geword. Soms is dit nie so maklik nie.

’n Vriendin van my het onlangs gesterf nadat sy moedig teen kanker geveg het. Ek voel platgeslaan, nes die silwerskermheld in die Rocky-rolprente.

As jy hierdie naam herken, is ons in dieselfde ouderdomskategorie.

Ek was ’n tienermeisie toe dié flieks sedert 1976 verskyn het. Daardie tyd het boksgevegte my glad nie aangestaan nie.

Ek het onlangs weer hierdie rolprente gekyk, maar dié keer met ander oë. Ek vereenselwig my met die groot man se lot. Al was hy nie die skerpste potlood in die pakkie nie, was hy opreg. Sagmoedig. Hy raak verlief op die vaal meisietjie met die dikraambril en sy oog dwaal nooit na ’n ander vrou nie.

Rocky het in die agterstrate van Chicago grootgeword. Nooit gaan studeer nie. Hy moes die wêreld met sy vuiste aanpak. Dit besorg hom roem, tog bly hy nederig.

Die kophoue rig breinskade aan en hy weier om weer in die kryt te klim. Maar nes ek, het Rocky geen keuse nie: Hy moet terugklim en die volgende uitdager die hoof bied.

Het jy al agtergekom? As jy Jesus volg, is jy ’n vyand van Satan. Hy daag jou herhaaldelik uit. Hy slaan jou sommer-so tussen die toeskouers al. Dan weet jy: Dit gaan ’n epiese geveg wees.

Daar is soveel lesse te leer uit Rocky se lewe. Sy afrigter is stokoud, maar uiters wys. Sy vrou ondersteun hom deurgaans. Sonder hulle sou hy nie die wêreldkampioen geword het nie. En hy bestudeer vooraf sy opponente se bewegings, hulle sterkpunte en swakhede. Hy weet presies wat om te verwag. Oefening is natuurlik kardinaal. As hy daai trappe uithol, dan hyg ek na asem en ek voel hoe my bene jellie word.

Rocky se veghond-karakter, is vir my die beste. Sy reuse-opponente se houe val soos haelballe, maar hy gee nie in nie. Hy word platgeslaan, maar hy staan weer op, want hy veg vir meer as net die titel. Dis vir sy behoud.

Sy ervare afrigter se aanhitsing vanuit die krythoek spoor die tier in hom aan. Dan kry hy krag van iewers diep binne en takel sy opponent met mening. Met toegeswelde oë en stadige, lompe tred bly hy sukkelend orent. Dan gil sy afrigter: “Take him down, Rocky!

Lucifer is ’n gedugte teenstander. Jy moet hom nié onderskat nie. Toe ek anderdag met my gesig teen die krytvloer lê, wind uit en sonder krag, dink ek: Dis verby.

Ek kán nie meer nie. Dis toe dat ek my kop na die hoek draai en vir Jesus sien.

Hy staan met die kampioen-gordel oor sy skouer en Hy skree: “Ek het klaar gewen!”

Ek stoot my arms onder my in, beur pynlik orent en mompel: “Lucifer! Ek is meer as ’n oorwinnaar! You are going down!

You need to be Logged In to leave a comment.