Bewustheid oor atlete met gestremdhede geskep

Drie Bloemfonteiners het hande gevat om talent onder atlete met gestremdhede te bevorder.


Drie Bloemfonteiners het hande gevat om talent onder atlete met gestremdhede te bevorder.

Claus Kempen, wat Paralimpiese medaljewenner Louzanne Coetzee se marathon-gids is, sê ná hul prestasie op die spele verlede jaar moes hulle besluit watter nuwe uitdagings hulle wou pak.

Louzanne sê nie net wou sy bewustheid skep oor atlete met gestremdhede nie, maar sy wou ’n positiewe bydrae op verskeie vlakke maak.

Een van die geleenthede wat sy identifiseer het, is om Mating Monokoane, kaptein van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se sokkerspan, by die Louzanne Coetzee-stigting te betrek.

“Mating is die primaria van Huis Akasia, waar ek die huismoeder is,” vertel Louzanne.

“Ek het haar sien groei en ontwikkel en ek wou haar graag by die projek betrek om haar leierskapvaardighede verder uit te bou.”

Claus sê hy het reeds gesien hoe hul betrokkenheid in die gemeenskap ’n groot verskil kan maak.

Hy en Louzanne was in Mei in Louis Trichardt op uitnodiging van Sheryl James, wat op die spele ’n bronsmedalje in die 400 m verwerf het.

Daar het hulle te doen gekry met visueel gestremde kinders van ’n plaaslike skool.

“Ek het met die een seun as gids gehardloop,” vertel Claus.

“In sy hele lewe het hy nog nooit gehardloop nie, en toe hy eers besef dat dit veilig is, het hy my skoon weggehol.”

Louzanne sê die stigting is geskep om vir hulle ’n wye platform te skep om op verskillende maniere bewustheid te skep en sportlui te help.

  • Louzanne het 2 Oktober vir die 2024 Paralimpiese Spele in Parys, Frankryk, gekwalifiseer toe sy en Claus die London-marathon in 3:27.13 voltooi het.

Sy is genooi om as die enigste visueel gestremde atleet saam met die elite-atlete in London weg te spring.

Louzanne en Claus het ook deelgeneem aan die eindronde van die nasionale vrouereeks, wat in Kaapstad beslis is. Louzanne was die eerste blinde atleet in 15 jaar om aan dié Grand Prix-reeks deel te neem.

Haar fokus is nou op die 1 500 m-nommer, waarin sy nog vir die Paralimpiese Spele moet kwalifiseer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.