‘n Geselligheid wat talle aangeraak het en vroue van oor Bloemfontein heen onder die indruk gebring het van die groot werk wat die Childhood Cancer Foundation (CHOC) doen, is op 24 September by Urth aangebied.
‘n Mooi bedrag van R60 000, wat met die geselligheid genaamd Hats op for Hope ingesamel is, is op Maandag 6 Oktober aan Sonet van Zyl, streekbestuurder van CHOC in die Vrystaat en Kalahari, oorhandig.
Op die geselligheid op Erfenisdag het vroue kreatief geraak met interessante selfgemaakte of stylvolle hoede.

Van Zyl het op die geleentheid oor CHOC gesels en vertel van die werk wat gedoen word om kinders en jong volwassenes wat kanker het − asook hul gesinne − te ondersteun terwyl hulle in Bloemfontein by die onkologie-afdeling van die Universitas- Akademiese Hospitaal kankerbehandeling ontvang.
Volgens die departement van gesondheid en ander betrokkenes, soos die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), is kinderkanker ‘n groot gesondheidsvraagstuk en een van die grootste oorsake van siekte-verwante dood onder kinders wêreldwyd. Die WGO raam dat jaarliks sowat 400 000 nuwe gevalle voorkom, met om en by 1 000 van dié gevalle in Suid-Afrika.

Plaaslik is leukemie die mees algemeen gediagnoseerde soort kinderkanker op die nasionale register.
Die Hats op for Hope-geselligheid wat deur plaaslike sakevroue gereël is, het opnuut die klem laat val op die omvang van kinderkanker en ook die aandeel wat CHOC-huis in Universitas het om ondersteuning te bied.

Met die ontvangs van die geld van die geselligheid het Van Zyl Maandag gesê die sakevroue van Bloemfontein het die saak geldelik ondersteun, maar meer as dit: Dit het ‘n groot bydrae tot bewusmaking gelewer.
Internasionaal word op vroeë opsporing gefokus. Lees op Bloemnuus.co.za oor hoe ouers vroeë tekens van kanker kan opmerk en so gou moontlik mediese hulp kan kry.

Mirna Butler en Mariet Schröder, twee vroue wat hard agter die skerms gewerk het om die geselligheid ‘n werklikheid te maak, sê hulle hoop om Hats op for Hope ‘n jaarlikse instelling te maak.





You must be logged in to post a comment.