Bloemfonteinse blinde atleet Louzanne Coetzee en haar twee gidse, Claus Kempen en Estean Badenhorst, vertrek Donderdag (19/08) saam met die Suid-Afrikaanse span na Tokio vir die Paralimpiese Spele wat volgende week begin.
Hulle is onder die 34 Suid-Afrikaanse atlete en sportlui met gestremdhede wat van Dinsdag (24/08) tot Sondag 5 September op die spele gaan meeding.
Coetzee gaan aan die 1 500 m, asook die marathon, deelneem. Sy sien baie uit na die spele, met die doelwit om haar persoonlike beste tyd in die 1 500 m (T11) op te stel.
Coetzee is die Suid-Afrikaanse titelhouer in die 1 500 m, die wêreldrekordhouer in die 5 000 m en die Afrika-rekordhouer in die 800 m.
Sy het in 2016 aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro deelgeneem.
Op vanjaar se spele gaan Badenhorst haar gids in die 1 500 m wees. Die uitdunrondes vir dié baannommer vind op Sondag 29 Augustus plaas, en as alles goed gaan, neem hulle op 30 Augustus aan die eindronde deel.
Coetzee en Badenhorst het al voorheen saam deelgeneem.
“Dit is vir my ’n groot voorreg om vanjaar as Louzanne se gids aan die spele deel te neem,” sê Estean oor die tyd wat voorlê.
Dit is die eerste keer dat hy as gids aan ’n Paralimpiese Spele deelneem.
Hy het sedert 2018 van tyd tot tyd vir Coetzee as gids opgetree, maar het ’n tyd lank nie in Bloemfontein gebly nie. Vandat hy vroeër vanjaar na Bloemfontein teruggekeer het, oefen hy en Coetzee van Mei af volstoom vir die spele.
Coetzee het al aan talle plaaslike en internasionale marathons deelgeneem, soos die Berlyn- en London-marathon. Hoewel haar fokus tydens die spele op die baannommer is, sien sy uit na die padwedloop.
Kempen is haar gids in die marathon.
“Dit is selde dat ’n atleet aan ’n baan- en padnommer op ’n spele deelneem,” sê Kempen.
Die twee is opgewonde daaroor dat die marathon in Tokio self plaasvind, anders as dié van die Olimpiese Spele wat in Sapporo beslis is.
Anders as tydens die onlangse Olimpiese Spele, neem die vroue en mans in alle afdelings saam aan die marathon deel.
“Ek sal net moet klaarmaak,” spot Coetzee oor die maraton.
“Dit is die enigste manier waarop Claus binne die Olimpiese stadion sal kan kom.”
Die marathon eindig in dié stadion.
Blykbaar word atlete se toegang tot die stadion weens Covid-19 selfs nog strenger as in die verlede beheer, en slegs die atlete wat deelneem, word toegelaat.
Bloemfonteiner Ernesta Strydom gaan ook na die spele, as tegniese beampte vir atletiek. Sy sal optree as beampte in die staande veldnommers vir gewigstoot, spiesgooi en diskusgooi.
Dit is die vierde keer dat Strydom na ’n Paralimpiese Spele gaan. Sy was ook in 2008 in Berlyn, in 2012 in London en in 2016 in Rio de Janeiro.
Sy vertrek Maandag (23/08) na Tokio.