Die Vrystaters het behoorlik uitgeblink in die moderne vyfkamp- en laserwedloopwêreldkampioenskap van 19 tot 21 Augustus in Bath, in die Verenigde Koninkryk.
Die Suid-Afrikaanse span het uiteindelik ses goue medaljes, sewe silwermedaljes en vier bronsmedaljes verower.
Bloemnuus
het verlede week berig hoe Mika-Leigh Strydom (Eunice High School) tydens dié byeenkoms as die o.15-wêreldkampioen aangewys is. Sy het ook saam met haar spanmaats Megan Kleynhans en Tatiana Thomato goud in die meisies o.15-spankompetie behaal.
Waldo Bosch (Grey-kollege primêr) en sy spanmaats Wanru Haasbroek en George Neuhoff het goud gewen in die seuns o.11-spankompetisie. Ook Hanru Krause (Grey-kollege sekondêr) en sy spanmaats Luandré Bronkhorst en Hanlu Bronkhorst het ’n eerste plek gewen in die afdeling vir seun o.19. Lisabelle Beukes (Eunice Primary School) was gesamentlik derde in die o.13-wedloop om bronsmedalje te wen.
Die Suid-Afrikaanse o.13 meisies het tweede gekom en silwer gewen in die spankompetisie. Lisabelle se spanmaats, Munay Uys en Chani Britz, is albei van die Laer Meisieskool Oranje.
Lisabelle het ook saam met haar seuns-spanmaat Pieter Schoeman van die Wes-Kaap ’n bronsmedalje in die gemengde aflos verwerf.