Bfn hotel geniet erkenning, gee steeds terug aan stad

Nie net het die BON Hotel Bloemfontein in die middestad onlangs ’n internasionale eerbewys ontvang nie, dié hotel bied ook jaarliks ’n gholfdag aan om geld vir liefdadigheid in te samel.


Nie net het die BON Hotel Bloemfontein in die middestad onlangs ’n internasionale eerbewys ontvang nie, dié hotel bied ook jaarliks ’n gholfdag aan om geld vir liefdadigheid in te samel.

Die plaaslike hotel het vroeër vanjaar die Goue Eerbewys in die World Travel Market (WTM) in Afrika gewen en in November is dié hotel op ’n geselligheid in Londen aangewys as die wenner in die WTM se afdeling vir Internasionaal Verantwoordelike Toerisme.

Guy Stehlik, uitvoerende hoof van die BON Hotel-groep, het die eerbewys namens Pieter van Rooyen, bestuurder van BON Hotel Bloemfontein, in ontvangs geneem.

Stehlik sê met ’n geskiedenis wat oor 50 jaar strek, het die BON Hotel Bloemfontein ’n goeie reputasie vir bemagtiging, volhoubaarheid en verantwoordelike toerisme.

Die hotel het reeds jare lank ’n sterk verhouding met die nabygeleë Torings van Hoop.

Danksy ’n gholfdag wat op 11 November op die Schoemanpark-gholfbaan aangebied is, kon die gebruiklike skenking aan Torings van Hoop en Kindersorg Bloemfontein en Childline Free State ook weer vanjaar gedoen word.

Van Rooyen sê dit is ’n eer om elke jaar dié gholfdag aan te bied en so ’n bydra tot liefdadigheid in die stad te maak.

Ds. De la Harpe le Roux (Torings van Hoop) en Marietha le Roux (Kindersorg Bloemfontein en Childline Free State) het op ’n klein geselligheid Vrydag 2 Desember elk ’n skenking van R29 920 in ontvangs geneem.

Le Roux sê hierdie skenkings is baie waardevol in die werk wat Torings van Hoop onder hawelose mense in Bloemfontein se middestad doen.“Ons bied weer vanjaar op Kersdag ’n erediens en ’n ete aan hawelose mense aan om hul Kersfees spesiaal te maak. Skenkings soos hierdie maak dat ons kan voortgaan met hierdie projekte.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.