Die hondjie is Donderdag op die suidelike stortingsterrein van Bloemfontein gered. Foto: Verskaf


Polisie-lede het Donderdag (22/06) tydens ’n optrede by die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein, ’n baba-hondjie gered van ’n gewisse vlammedood.

Werner Botha, inspekteur by die DBV, sê lede van die polisie het gesien hoe die jong hond koes vir die vlamme van ’n brand wat op die stortingsterrein begin is.

Vullis het selfs nog tot Saterdag op dié stortingsterrein gesmeul.

Nadat die hondjie gered is, het die polisie haar na die DBV geneem waarna ’n veearts haar behandel het vir erge brandwonde op haar pote en enkele wonde aan haar lyf.

Botha sê sy het erge pyn verduur en kon nie self staan nie.

Benewens brandwonde, was die hondjie erg gedehidreer. Sy is met antibiotika en antiseptiese medikasie behandel. Sy is swak en benodig steeds versorging.

Die DBV het besluit om die hondjie Sage te noem.

Die koste van die behandeling van Sage, was R4 000 en die DBV vra die publiek om daarmee te help.

“Ons vra die publiek om ons te ondersteun sodat ons kan help in gevalle soos hierdie. Ons is dankbaar vir die dapper lede van die SAPD wat die hondjie uit die vlamme gered het en na ons toe gebring het,” sê Botha.

“Hou die DBV se Facebook-blad dop vir nuus oor Sage se herstelproses.”

Die polisie het in die optrede 16 onwettige immigrante in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.