Die twee kameelperde Zuri en Kariba het op Dinsdag 11 April veilig in die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill aangekom.
Die aankoms van dié nuwelinge is ’n drie jaar lange droom van Andri Grobbelaar en die Vriende van Franklin wat graag die genepoel van die kameelperde daar wil vergroot.
’n Professionele span het Maandag twee kameelperde van die Amanzi-wildreservaat na die Weltevreden-reservaat buite Bloemfontein verskuif.
’n Span het toe Dinsdag om 06:00 begin om twee vroulike diere te kies om na Naval Hill te verskuif.
Dr. Francois Deacon van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement van vee, wild en weidingkunde, sê hulle kon kies uit 12 kameelperde en het twee goeie, gesonde diere gekies.
Grobbelaar verduidelik die verskuiwing kom nadat die Rooipoort-natuurreservaat buite Kimberley twee kameelperdkoeie aan Vriende van Franklin en die Franklin-reservaat, wat aan die Mangaung-metro behoort, geskenk het. Vriende van Franklin het geld ingesamel vir die veeartsenykoste en vervoer van die kameelperde.
“Die twee koeie sal in ’n later stadium na Amanzi verskuif word,” het sy tydens die vrylating op Naval Hill verduidelik.
Die twee jong kameelperde is die oggend verdoof, geblinddoek en toe die sowat 30 km vanaf Weltevreden per pad na hul nuwe bestemming geneem.
’n Uitgesoekte groepie mense was daar om te sien hoe die kameelperde se blinddoeke afgehaal word en hulle hul eerste treë in dié reservaat gee.
Rhulani Shivambu, hoof van natuurbewaring in die Mangaung-metro, het gesê hy is verheug oor die nuwe kameelperde se aankoms en glo hier gaan hulle gelukkig wees.
Die kameelperde sluit hulle aan by Naval Hill se ander twee kameelperde, die jong Paseka en sy pa, die bulperd van Naval Hill. Dié twee se ma, Masabatha, is in Maart verlede jaar dood toe sy in ’n erosiesloot geval het.
Die Mangaung-metro en Vriende van Franklin versoek dat die publiek die nuwelinge in vrede laat totdat hulle in hul nuwe omgewing aangepas het.