Helena Taljaard ontmoet pres. Cyril Ramaphosa tydens sy besoek aan die Vereenigingrylaanbrug. Foto: Lientjie Mentz


Die president was beïndruk met een van Bloemfontein se nuutste infrastruktuurontwikkelings, die verlenging van Verenigingrylaan, wat hy Saterdag (12/04) besoek het.

Die brug, wat volgens die konstruksiemaatskappy Raubex ongeveer 98% klaar is, is tydens die presidensiële imbizu in die stad aan pres. Cyril Ramaphosa en talle ministers gewys.

Die projek, waaraan daar meer as R90 miljoen bestee is, is glo al in die jare 1980 ontwerp om verkeersvloei in die suide van die stad oor die spoorlyn en die Ferreirapad, te vergemaklik.

Die brug behoort binne die volgende vyf weke amptelik oopgestel te word, terwyl verkeer reeds onder die brug vloei.

Verkeerstekens op die brug is reeds aangebring.

Helena Taljaard, inwoner van Vereenigingrylaan, het tydens die president se besoek die kans gekry om hom te ontmoet en vir hom te sê dat sy vir hom seën toewens vir die werk wat hy doen.

Sy was ná die tyd skoon aangedaan oor dié oomblik.

Hul huis is die laaste huis in Uitsig op linkerkant voordat ’n mens oor die brug ry en hoewel hulle en bure baie ongerief moes verduur terwyl die brug aan die bou was, is hulle baie bly dat die projek nou byna voltooi is, sê sy.

Bloemfontein het beslis sy beste voetjie voorgesit met Ramaphosa en talle ministers se besoek verlede week aan die stad.

Einde verlede week het Nelson Mandelarylaan behoorlik gewemel van mense in oranje oorpakke wat vir kontrakteurs werk om toegangsroetes na die stad skoon te maak en die verkeerseilande se lang gras te sny.

Talle inwoners wou weet waarom daar geld is om die verkeerseilande skoon te maak wanneer hooggeplaastes kom kuier, terwyl die stad die res van die tyd in ’n haglike toestand is.

Die president en ministers se besoek aan die stad val saam met die aankondiging Donderdag (07/04) dat die Mangaung-metro onder nasionale administrasie geplaas word.

Dit kom nadat die metro reeds twee jaar onder provinsiale administrasie is en dienslewering en korrupsie glad nie verbeter het nie.

Tydens die imbizu Saterdag (09/04) in die Dr. Petrus Molemela-stadion in Rocklands, het Ramaphosa en 24 ministers en adunkministers na die griewe van inwoners oor die metro heen geluister.

’n Beperkte aantal van al die dorpe wat deel van die metro vorm, wat Dewetsdorp, Wepener, Vanstadensrus, Soutpan, Thaba Nchu en Botshabelo insluit, asook inwoners van Bloemfontein het die geleentheid gekry om hul griewe te lug.

Die sowat 2000 mense op die imbizu wat onder markiestente teen die gietende reën gesit het, kon ook boodskappe per WhatsApp met hul griewe stuur.

Tydens haar toespraak, het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gesê dat sy en haar span ná Paasnaweek na die stad sal terugkeer om te begin werk aan die nasionale regrukplan. Sy het gesê dit is belangrik dat die regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak saamwerk en terugvoer van inwoners kry vir die beste opsies om uitdagings te pak.

“Die regering het nie die monopolie op idees nie,” het sy op die imbizu gesê voordat mense uitgevaar het oor die swak dienslewering en werkloosheid in die metro.

You need to be Logged In to leave a comment.