Bfn-skool in die kol met nuwe boogskietbaan

,

‘n Nuwe boogskietbaan is vandeesmaand met ‘n kompetisie by die Martie du Plessis-skool geopen.

Martie du Plessis-skool se boogskietbaan is onlangs geopen. Credit: Lientjie Mentz

Kort ná die opening van die Martie du Plessis-skool se eie boogskietbaan, is die eerste amptelike byeenkoms Saterdag 12 April by die skool aangebied.

Martie du Plessis en Curro se gesamentlike liga-boogskietkompetisie het die baan amptelik ingewy.

Dit is die eerste kompetisie van sy soort wat by Martie du Plessis aangebied word.

Daar het 187 skuts waarvan 15 van Martie du Plessis aan die skool se byeenkoms deelgeneem. Skuts het van sover as Orkney, Sasolburg, Klerksdorp, Virginia, Kroonstad en Bethlehem gekom om deel te neem.

Martie du Plessis se splinternuwe boogskietbaan, wat op 12 April met ‘n kompetisie ingewy is. Foto’s: Verskaf Credit: Verskaf

Richard Steward van Martie du Plessis, sê die opening van die boogskietbaan is danksy die visie van die skoolhoof, Francois van Heerden, wat saam met die beheerliggaam besluit het om geld beskikbaar te stel sodat so ‘n baan op die skoolterrein gebou kan word.

Steward sê dit is ‘n eerste in die Vrystaat.

“Dit help baie met oefeninge dat die baan klaar opgestel is en dat leerling net die boë en teikens kan uitpak wanneer die oefening begin,” sê Steward.

Hy sê Martie du Plessis bied al lank boogskiet by die skool aan, maar het die afgelope vier jaar oorgeslaan na saamgestelde boë (“compound bow”) wat van 12 tot 20 pond toe kan stel.

“Die rede vir die verandering van die recurve na die compound toe, was dat dit meer geleenthede vir deelname aan kompetisies vir die leerlinge gebring het,” verduidelik Stewart.

Zieta van Zyl het in die afdeling vir volwasse vroue gewen. Credit: Verskaf

Hy sê leerlinge neem deel aan ligakompetisies en kan kwalifiseer vir die Vrystaatproewe en kan dan gekies word vir die

Vrystaatspan wat aan die Nasionale Kampioenskap wat die jaar in Limpopo aangebied word, kan gaan deelneem.

Die skool neem deel onder African Genesis Archery (AGA) wat ontwikkel het uit die National Archery of Schools Project (NASP) waar leerlinge tydens skooltyd aan boogskiet as ‘n program kan deelneem.

In die eerste jaar nadat Martie du Plessis oorgeskakel het na AGA-boogskiet, het daar net een seun, Deon Visser (nou in gr. 10) aan die ligakompetisies deelgeneem. Hy het gekwalifiseer om aan die Vrystaatse-proewe deel te neem. Die skool was baie dankbaar dat sy ouers solank vir hom sy eie boog kon koop en na die kompetisies kon vervoer.

JG Barnard (gr. 5) het goud en silwer in die twee kompetisies ontvang.

Die aantal leerlinge wat aan boogskiet deelneem, het die afgelope jaar toegeneem.

Die sportperiode wat tydens skoolure ingebring is, het baie gehelp om aan meer leerlinge blootstelling te bied aan die sport.

“Boogskiet by ons skool bied die geleentheid vir leerlinge van verskillende ouderdomme, leerlinge met gestremdhede wat in ‘n rolstoel is, tot leerlinge met leergestremdhede om aan ‘n sport deel te neem waarin hulle kan presteer. By AGA gaan dit oor die gesin en dinge saamdoen en selfs Pa en Ma kan betrokke raak.

“Ouer en kind kan met dieselfde boog skiet – net ‘n verstelling op die boog is nodig. Ons het al drie ouerpare wat saam met hul kinders skiet.”

Tydens die kompetisie skiet die skuts vier vlugte op 10m, waarvan die eerste ronde ‘n oefenvlug is, en dan weer vier vlugte op 15m, waarvan die eerste weer ‘n oefenvlug is. Die telling aan die einde van die kompetisie tel dan uit 300 punte.

“Dis baie lekker om te sien hoe die kinders ontwikkel. Van die beginners wat sukkel om die boog se snaar styf te trek tot waar leerlinge reeds 50 uit 50 tellings behaal.”

Die uitblinkers op die byeenkoms was JG Barnard in gr. 5 wat ‘n goue en silwer-medalje in die twee kompetisies van Martie du Plessis, asook Curro, verwerf het.

Zieta van Zyl, ‘n oudleerling van Martie du Plessis, het in die afdeling vir volwasse vroue by Martie du Plessis gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.