Die gewilde Bloemfonteinse kinderboekskrywer Jaco Jacobs het pas nog ’n prys verower – dié van die ATKV-kinderboekeerbewyse vir grafiese roman vir beginnerlesers.
Sy boek Krok en Dil met illustrasies deur Nadia du Plessis is pas in die afdeling vir grafiese roman vir beginnerlesers aangewys.
Daniëlla van Heerden en Megan Werner se boek As jy Droom is aangewys as debuut-jeugroman.
Die eerbewyse word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke te bekroon wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het.
Die opwindende deel van die eerbewyse, is dat die boeke deur die kinders self beoordeel word.
Krok en Dil is ’n grafiese roman vir beginnerlesers wat drie skreeusnaakse stories bevat.
Die boek is ook die inspirasie vir die Krok en Dil-leesreeks waarvan vlak 1 en vlak 2 reeds beskikbaar is.
Jaco het al meer as 220 kinderboeke geskryf en meer as ’n miljoen kopieë van sy boeke is reeds verkoop.
Hy het al ’n allemintige 44 pryse vir sy werk ontvang en van sy boeke is al in Engels, Nederlands, Italiaans en Portugees vertaal.
As jy droom is die storie van durf, deursettingsvermoë, hoop en hartseer. Dit is gebaseer op die ware verhaal van Megan Werner se droom om saam met ander tieners ’n vliegtuig te bou en daarmee van Kaapstad na Kaïro te vlieg. Dit is die joernalis en aanbieder van eNuus Daniëlla van Heerden se debuutroman.