Ses meisies van die JF Drummie-klub het as wêreldkampioene uit Kroasië teruggekeer nadat hulle in ’n internasionale kompetisie uitgeblink het.
Hulle het as verteenwoordigers van Federation of Dance Drill, Cheerleading and Majorette Sport South Africa (FDDCMSA) op die International Association of Majorette-Sport (I AM) se byeenkoms ’n goue medalje in die afdeling vir mini-mix-formasie gewen
Die ses meisies is: Mariska Nortje (21), Monique van der Merwe (18) van die Hoërskool Jim Fouché, Kay-leigh Liddle (16) van Jim Fouché, Dezrie van Dyk (16) van Jim Fouché, Leanne Hanekom (14) van die Hoër Meisieskool Oranje en Onalerona Loate (13) van Curro Bloemfontein.
Die federasiespan het van 24 tot 27 Augustus aan die I Am-kampioenskapsbyeenkoms in Opatija deelgeneem.
Helené Bakkes, afrigter, sê die trompoppie-klubs het eers op provinsiale en daarna op nasionale vlak meegeding, en die beste spanne is daarna in die federasiespan ingesluit.
Bakkes sê dit was vir die meisies ’n wonderlike en waardevolle ervaring.
“Dit was die eerste keer dat lede van die JF Drummie-klub oorsee deelgeneem het,” sê sy.
“Die meisies het soveel geleer – van verskillende tale en kulture, maar ook nuwe bewegings. Van die ander atlete het weer by ons Suid-Afrikaners nuwe bewegings geleer.”