Bfn steun bokke, mekaar

Terwyl die stad hom voorberei op een van die grootste gebeurtenisse hier, met ’n stampvol Toyota-stadion waarin die Springbokke Saterdag teen Portugal rugby speel, vier mense oor die stad heen vandag Mandeladag.


Terwyl die stad hom voorberei op een van die grootste gebeurtenisse hier, met ’n stampvol Toyota-stadion waarin die Springbokke Saterdag teen Portugal rugby speel, vier mense oor die stad heen vandag Mandeladag.

By die Vrystaat-nasorgsentrum is inwoners opgewonde oor Mandeladag. Die Springbok-rugbyspeler wat Saterdag as kaptein die Springbokke teen Portugal gaan aanvoer, Salmaan Moerat, gaan vandag by die sentrum kuier. Hy is die 66ste Springbokkaptein en sal sy 67 minute vir Mandeladag by die sentrum deurbring.

Francois Prinsloo, bestuurder van die Vrystaat-nasorgsentrum, sê besoekers kan ook deur die loop van die dag by die sentrum kom kuier.

Lede van die Cheetah-rugbyspan gaan help om te braai en daar gaan stalletjies wees waar besoekers iets te drinke kan kry – van koeldrank en koffie tot jenewer.

Verskeie besighede het mekaar uitgedaag om 67 minute lank op oefenfietse te trap (“spinning”) en die spanne word R67 per kilometer geborg.

Grey-kollege se eerste rugbyspan en die Cherries (Grey se tweede span) gaan ook 67 minute kom fietstrap.

Radio Rosestad het regstreekse uitsendings van 08:00 tot 20:00.

Om 17:00 word ’n pretloop oor 6,7 km aangepak. Die wedloop se beginpunt is op die perseel van die Vrystaat-nasorgsentrum, en deelnemers hardloop deur die Sewe Damme-bewarea en weer terug tot by die sentrum. Gelukspryse is op die spel, waaronder ’n jagpakket. Die aand, van 16:00 af, gaan plaaslike musici musiek maak en sing.

Besoekers kan smul aan lamsvleis wat op ’n spit gaargemaak word en op ’n broodrolletjie bedien word, asook gebraaide sosaties of boerewors op ’n broodrolletjie. Alles kos R25 elk.

Alle geld sal aangewend word ten bate van die sentrum, vir volwasse verstandelike gestremde mense. Die sentrum versorg 118 inwoners en het 16 dagwerkers. Die begunstigdes woon op die perseel en werk daagliks in vyf beskermde werkswinkels.

Nog ’n organisasie wat ondernemings uitdaag om betrokke te raak en vir hul medemens om te gee, is die Westdene-woonbuurtvereniging. Uit dank vir die werk wat Anchor of Hope in die stad en ook spesifiek in Westdene doen, hou die vereniging ’n insameling vir Anchor of Hope.

Michael Deutschman, bestuurder van dié woonbuurtvereniging, nooi individue en ondernemings om in die gees van Mandela se waardes en beginsels ’n positiewe invloed op die gemeenskap te hê.

“Anchor of Hope doen wonderlike werk in ons woonbuurt, en daarom vra ons dat mense ’n bydrae tot Anchor of Hope se projekte lewer.”

Dit sluit in ’n mansskuiling, die Lighthouse Upliftment Centre, waar baie van die werkers bly.

Skenkings van doeke vir die Swangerskapkrisissentrum van Hoop (PPC), waspoeier, skoonmaak­middels, swartsakke, toiletware vir mans en vroue, vleis, soja en rys, asook verf vir die mansskuiling, is van die versoeke.

Ook die St Andrew’s School se leerlinge werk hard om hul deel te doen vir Mandeladag.

Die skool het 6 000 pare gebruikte skoene, tekkies en stewels van die Our Shoes Charity in Ierland ontvang.

Roland Rudd, skoolhoof, versoek die publiek om klere en skoene te skenk en dit by die skool te help verpak om aan begunstigdes tot so ver soos Lesotho te versprei.

Die verpakking begin om 07:30 by die skool en sal duur tot 16:30.

Die skool se Interact-komitee sal ook ’n besoek aan Torings van Hoop in die Bloemfonteinse middestad bring waar hulle skenkings van nie-bederfbare kos, skoene en klere sal aflewer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.