Hy moet homself nog knyp om dit te glo.
Só sê die parmantige Hans Haas, oftewel Xander Steyn, wat ’n Fiësta-benoeming gekry het vir sy kinderproduksie Hans Haas sê hallo!
Xander is die regisseur en speel die rol van Hans Haas. Hans Haas sê hallo! is die agtste produksie van Hans Haas en sy maatjies. Xander sê die karakters is gebore terwyl hy, sy ma en susters in ’n motor op pad was Dundee toe. Sedertdien is daar geen keer nie.
Die produksie, wat deel was van vanjaar se Vrystaat Kunstefees, is een van vier wat benoem is vir kykNET se Fiëstas in die afdeling vir beste kinder- en opvoedkundige produksie. Die ander benoemings is vir regisseur Nico Scheepers vir Braam en die engel, Margit Meyer-Rödenbech vir Liewe Heksie vang visen Amelda Brand vir Stars – Inkwenzkwezi – sterre. Die wenners word op 7 Maart in Kaapstad aangekondig.
– Lientjie Mentz