Menseredders by Saterdag (24/06) se Ysbeerswem-uitdaging vir die Goudveld is van links Kaylin Visser, Chantel Smith en Carina van der Merwe.


Saterdag (01/07) is dit Bloemfonteiners se beurt om saam te trek vir die Ysbeerswem-uitdaging nadat Goudvelders die naweek in die Allemanskraaldam geswem het.

Felix Burri, wat dié geleenthede elke jaar reël, sê 107 swemmers het Saterdag (24/06) by Aldam deelgeneem.

Deelnemers het hulle in prettige spandrag uitgevat, en die spanlede wat hul uitrustings van ou dasse gemaak het, het die prys vir oorspronklikheid gekry.

Die “katte” en “faro’s” het ook pryse gekry.

Vyf swemmers het om 23:30 die kampvure ’n wyle verlaat en deelgeneem aan die middernagswem-uitdaging in die swembad by Aldam, waar hulle water van 9 °C aangedurf het in buite-temperature van 4 °C.

Komende Saterdag se Ysbeerswem-uitdaging word om 12:00 in die koue water van die Modderrivier aangepak. Die pretdag begin om 09:00 by Doringbos, sowat 27 km buite Bloemfontein langs die R64-pad.

Die hele gesin kan saamry en die viertrek-uitdaging op die hindernisbaan ervaar.

Gelukstrekking-belonings en pryse word ná die swem om 12:00 uitgedeel.

Burri sê pryse ter waarde van R12 000 is op die spel. Elke swemmer kry ’n volkleurmedalje.

Inskryfgeld vir die Ysbeerswem-uitdaging is R100.

Mense wat meer waag­halsig is, kan R500 betaal en aan die middernagswem-uitdaging deelneem.

Elkeen wat hulle vir dié middernag-uitdaging inskryf, kry ’n geskenkpakkie met inhoud ter waarde van R650.

Toegang kos R100 per voertuig en word aan die Therapea-jeugsorgsentrum in Fichardtpark geskenk.

You need to be Logged In to leave a comment.