Bfn verf stad groen vir Bokke

Ná Saterdag (02/07) se naelbytstryd tussen die Springbokke en Wallis in Pretoria, is dit die naweek Bloemfontein se beurt om die stadion vol te maak om die Springbokke te ondersteun.


Ná Saterdag (02/07) se naelbytstryd tussen die Springbokke en Wallis in Pretoria, is dit die naweek Bloemfontein se beurt om die stadion vol te maak om die Springbokke te ondersteun.

Ronel Pienaar, woordvoerder vir die Vrystaat Cheetahs, sê toeskouers word aangeraai om so vroeg moontlik na die stadion te kom om parkeerplek te kry en opeenhoping by toegangshekke te voorkom. Die hekke open om 12:00.

Drie strate rondom die stadion sal Saterdag (09/07) van 06:00 af gesluit wees. Dit is Att Horak-laan, Betogerslaan en Zola Buddstraat. Toeskouers word gevra om hul roete daarvolgens te beplan.

Betaalde parkeerplek is by die Loch Logan-waterfront, die Sand du Plessis-teater, die Old Grey-sportklub (vanaf Parkweg) en by Grey-kollege beskikbaar.

Ross van Reenen, uitvoerende hoof van die Vrystaat Cheetahs, sê die unie is dankbaar dat stadions nou gevul kan word vir dié groot toets.

“Dink net die heerlike atmosfeer wat sal heers as daar 46 000 toeskouers by die toets in Bloemfontein is. Niks sal vir ons meer vreugde bied as ’n vol stadion nie.”

Dit is meer as vier jaar sedert die stadion in Bloemfontein op 16 Junie 2018 ’n toets gehuisves het – dié tussen die Springbokke en Engeland.

Voor Saterdag se naelskraap-oorwinning (32 – 29) was die Bokke se vorige kragmeting met Wallis op 6 November 2021 in Cardiff, waar die Bokke met 23 – 18 gewen het.

Die wedstryd begin om 17:00. Kaartjiepryse vir Saterdag wissel tussen R150 en R750, en kaartjies is nog slegs by die Toyota-stadion se kaartjie­kantoor beskikbaar – vandag (07/07) en Vrydag van 08:00 tot 18:00, of Saterdag van 08:00 tot 12:00.

Toeskouers kan kaartjies ook op ticketpros.co.za koop.

SA Rugby waarsku ondersteuners om nie op onwettige plekke kaartjies te koop nie, omdat dit nie geldig sal wees nie.

Die Vrystaatse Rugbyunie sê ondersteuners moet ’n gedrukte kaartjie, PDF-uitdruk of elektroniese weergawe van die toetskaartjie saambring vir toegang by die hekke.

Kaartjies sal nie die dag van die wedstryd by die stadion afgehaal kan word nie, so dit moet vooraf gedoen word.

Die kunstenaars Ricus Nel, Bernice West, Francois Bouwer, Franja du Plessis en Zak Steyn tree van 13:00 af by die Castle-verhoog op, en daar sal ook kosstalletjies wees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.