Bibberweer hier

Talle Bloemfonteiners het op Dinsdag 4 Junie opgestaan in ’n yskoue wit feetjieland nadat ligte sneeu vroegoggend in die stad geval het.


Talle Bloemfonteiners het op Dinsdag 4 Junie opgestaan in ’n yskoue wit feetjieland nadat ligte sneeu vroegoggend in die stad geval het.

Julius Mahlango van die Bloemfonteinse weerkantoor sê dit is heeltemal normaal dat so ’n koue front die temperature laat daal hier vroeg in die winter. Hy sê egter nie hy of een van sy kollegas kan onthou wanneer laas dit in Bloemfontein gesneeu het nie.

Ligte sneeuval het ook oor die suide van die Noord-Kaap en Suid-Vrystaat voorgekom, sowel as in Oos-Vrystaatse dorpe soos Ficksburg en Ladybrand.

“Die swaarste sneeuval was in die Oos-Kaap, waar ontwrigtende vlakke van sneeu in die omgewing van onder meer Barkley-Oos voorgekom het,” sê Mahlango.

Dinsdag is die koudste temperatuur van -4 °C in Bethlehem en Vanzylsrus aangeteken, terwyl die dagtemperatuur in Bloemfontein ’n maksimum van 10 °C bereik het.

Van Woensdag af het dit weer warmer geword, maar Mahlango sê temperature gaan Vrydag weer daal wanneer nog ’n koue front oor die sentrale binneland beweeg. Hy sê geen reën word saam met die naweek se koue front voorspel nie.

Die kans om gou voor skool ’n sneeuman te bou, kan jy nie deur jou vingers laat glip nie. Skyla (8) en Milan (5) Kotzee van Fichardtpark in Bloemfontein was Dinsdag reeds om 05:15 uit die vere om die sneeu, wat wydverspreid in Bloemfontein voorgekom het, te benut.Foto: Verskaf

Die voorspelling vir dagtemperature Saterdag is tussen 10 °C en 13 °C, terwyl matiger temperature van bo 15 °C vir Sondag voorspel word.

Gedeeltelik bewolkte weer met geen noemenswaardige wind word vir die naweek voorspel.

You need to be Logged In to leave a comment.