’n Splinternuwe biblioteek wat einde verlede jaar by die Laerskool Fichardtpark ingerig is, is op Vrydag 13 September by dié skool amptelik in gebruik geneem.
Liezel Marais, die biblioteekjuffrou by die skool wat onlangs dié pos oorgeneem het, het ’n paar laaste afrondings aangebring voor die opening tydens die skool se Kos- en Kuierfees, wat Vrydagaand gehou is.
Marais sê die leerlinge geniet die nuwe biblioteek.
Die biblioteek is ingerig waar die skool se eertydse stookkamer was. Die boukoste van dié projek was R420 000. Deel van die projek is ’n buite-kuierruimte met houtbankies, met toegang vanuit die biblioteek, waar leerlinge en onderwysers buite kan sit en lees.
Elke klas van gr. 3 tot gr. 7 het weekliks ’n biblioteekperiode, en leerlinge word aangemoedig om te lees.
Benewens die biblioteek is die skool se nuwe sonkragstelsel ingerig. Die stelsel is ’n 82 kwh- hibride stelsel met ’n 120 kw-lithiumbatterybank en 150 sonpanele. Daar is ook twee 50 kw-omskakelaars.
’n Nuwe kantoorblok met drie nuwe kantore, asook ’n kindervriendelike siekeboeg, is ook Vrydag geopen.
Op die skool se C-veld is ’n nuwe klubhuis met ’n kombuis en ablusiegeriewe ook in gebruik geneem.