Binneversierder deel mooimaak op mark

Kom loer in by dié uitstaller op Saterdag (06/08) se Franse Mark by Villa Avianto in Kwaggafontein.


Dit is Saterdag (06/08) weer tyd om tussen die stalletjies vol mooigoed en lekker goed op die Franse Mark by Villa Avianto in Speserylaan, Kwaggafontein, te drentel.

Een van die uitstallers waarna markgangers kan oplet, is Lurize Nortje van Luvnic-binneversiering. Sy sê dit is nie nodig om ure te bestee en baie geld te spandeer om jou leefruimtes mooi te maak nie.

“Soms is al wat nodig is, om iets hier en daar by te voeg.”

Lurize sê Luvnic het ontwikkel uit haar liefde vir binneversiering, toe sy nog as jong meisie met haar Barbies gespeel het.

“My fokus het later geskuif van Barbies na meubels – ek het die meubels in my kamer heeltyd rondgeskuif totdat dit na my wense was,” vertel sy.

“Ek was gelukkig genoeg om ’n ma te hê wat die ontwikkeling van my talente aangemoedig het en my mening in die huis verwelkom en gewaardeer het. Ons het ’n deel van die huis verander totdat dit heeltemal nuut gelyk het, deur eenvoudig dit te gebruik wat beskikbaar was en dit op ’n nuwe manier te rangskik. Ek was mal daaroor en was baie opgewonde om uit te vind dat ek ’n loopbaan van my passie kan maak.”

Sy het Luvnic begin om kliënte te help wat ’n behoefte het om vertrekke of dele van vertrekke en werkruimtes op te kikker.

“Dit is kliënte wat van mooi dinge hou, maar nie altyd die kennis het om die verandering wat hulle begeer ’n werklikheid te maak nie.”

Dikwels het kliënte nie baie tyd, of selfs geld, om te soek na iets wat ’n ruimte esteties aangenaam sal maak nie.

“Ek maak die proses vir hulle makliker. Dit is ook hoe my e-ontwerp-ateljee begin het.”

Die e-ateljee maak dit vir haar moontlik om kliënte oor die wêreld heen te help, en só deel sy haar passie en liefde vir besonderhede met klante om dit wat hulle in gedagte het te verwesenlik.

As deel van haar passie vir binneversiering, bied sy dekor, meubels, produkte en geskenkbokse om die lewe vir mense makliker, beter en mooier te maak.

Markgangers wat op soek is na die perfekte geskenk, of selfs geskenkboks vir ’n vriendin of familielid, kan dus by Luvnik se stalletjie inloer.

Die Franse Mark begin om 08:00 en duur tot 15:00. Toegang kos R20, kinders van gr. 1 tot gr. 7 betaal R10 en kinders jonger as 6ses jaar kry gratis toegang.

Die mark word in samewerking met Bloemnuus aangebied.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.