Goeie nuus: Die pryse vir De Oude Kraal se Skaap-en-bierfees op Saterdag 26 Oktober is verlaag tot net R450 per kaartjie.
Kom proe watter soort skaapvleis die lekkerste saam met ’n biertjie afglip op De Oude Kraal se sesde Skaap-en-bierfees.
Kom proe die unieke skaap disse en smake spesiaal ontwerp en voorberei deur Marie Lombard ( eienaar en chef) en haar span om die beste van elke skaapras ten toon te stel en te pas by die verskillende craft biere.
Gerhard Lombard sê die skaapboud en tjoppies van tien verskillende rasse gaan op dieselfde manier berei en gaargemaak word.
“Só sal feesgangers regtig die verskillende rasse met mekaar kan vergelyk. Die manne van die skaapkopgilde kom weer spesiaal vir ons skaapkoppe gaarmaak, soos net hulle kan.”
So of jy nou glo ’n Karoo-skaap se vleis is die lekkerste, of eerder dié van een daar uit Noordwes, hier is die geleentheid om appels met appels (of is dit boud met boud?) te vergelyk. Die vleis van ronderib-afrikaner, merino, meatmaster, Suid-Afrikaanse vleismerino, dorper, dohne-merino, suffolk, afrino, dormer en Suid-Afrikaanse landskaap sal gaargemaak word.
Saam met die vleis word ’n verskeidenheid bier bedien.Die Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) se biere asook verskeie mikro-biere sal geproe kan word. Dit sluit in die biere van die plaaslik vervaardigde Brew & Still Die Bierhuis en Devil’s Peak. ‘n Kontantkroek sal ook beskikbaar wees.
Nagereg sal by die Plaaskombuis beskikbaar wees.
“De Oude Kraal is lief vir die Vrystaat en wil die beste van die Vrystaat ten toon stel,” sê Gerhard.
Kaartjies kos R450. Groepe van 20 of meer kry hul kaartjies vir net R400 en is op De Oude Kraal se webwerf beskikbaar.