Blindelingse gesmul help vereniging se beursie vul

’n Geldinsameling vir die Vereniging vir Blindes Vrystaat het nie net die rande laat inrol met ’n veiling nie – almal op die geselligheid kon iets daarvan ervaar om die lewe sonder sig te pak.


’n Geldinsameling vir die Vereniging vir Blindes Vrystaat het nie net die rande laat inrol met ’n veiling nie – almal op die geselligheid kon iets daarvan ervaar om die lewe sonder sig te pak.

Ná ’n hele paar jaar is die gewilde Dinner in the Dark-geleentheid weer gehou ten bate van die vereniging, wat hom daarvoor beywer om behoeftige mense wat blind of swaksiende is by te staan. Die vereniging ondersteun ook mense wat hul sig verloor met mobiliteitsonderrig.

Die geleentheid op 2 Oktober is deur die ATKV-tak Gemeenskapsteater by die Lejit Lekker-restaurant in Dan Pienaar aangebied.

Riaan Naude, ’n blinde sanger van Bloemfontein, het die vermaak verskaf en voor die ete ’n bietjie raad gegee oor hoe mense moet eet as hulle nie kan sien nie. Kort daarna het almal maskers oor hul oë getrek en is die kos bedien. Niemand kon dus sien wat vir aandete was nie en dit was – vir sommige meer as vir ander – ’n uitdaging om die steak van die soetwortels te onderskei.

“Die mense aan my tafel het bang geraak toe hulle niks voor hulle kon sien nie. Die verligting was groot toe hulle eindelik hul blinddoeke kon afhaal,” sê Naude.

“Julle het almal goed gedoen, ongeag die vrees om nie te kan sien nie.”

Ebeth Wilson van die ATKV-tak sê nagenoeg R15 000 is ingesamel op die geleentheid en hulle is heel tevrede.

“Veral die veiling het goed verloop, en ons is dankbaar vir gaste se oop beursie om hierdie goeie saak te ondersteun.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.