Bertie Cruywagen, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Jim Fouché (JF) in Bloemfontein, het uitstekend gevaar op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se senior byeenkoms die naweek in Pietermaritzburg. Hy het boonop langs ’n wêreldrekordhouer in die 400 m geëindig.
Bertie was sewende in die 200 m-nommer, met Wayde van Niekerk wat in die buitebaan saam met dié groep aan die eindwedloop deelgeneem het.
Benjamin Richardson het dié wedloop gewen en vir die Olimpiese Spele later vanjaar gekwalifiseer.
Volgens die wêreldranglys vir mans o.20 is Bertie sesde in dié nommer.
Nog twee atlete van JF, Miné Kriek en Maruné Dreyer, het ook aan die byeenkoms deelgeneem.